BRANDEWYN HET NIE BRIEKE NIE!
No.5(17/7/1998)
"DOREEN! Hahahaha!" Vriend Hay wil hom omtrent breek toe hy
laataand by ons aansluit by die hardekoolvuur langs die Olifants.
"Waar het jy nou al van só 'n naam gehoor vir 'n plaas! Dan sê die
bordjie nog 'DOREEN, WELKOM!!!'. Hahahaha!" Ek en vriend John murmureer
in ons baarde oor vriend Hay se onsensitiwiteit teenoor dié pragtige plek.
"Man, moet nou nie vir almal wys jy is 'n analafbet nie!"
probeer Jongeling Dunn hom tereg wys. "ANALFABEET!" help sy Ouboet
hóm reg.
"Of wat ook al. Wat vriend Hay nie besef nie, is dat 'n landmeter,
wanneer hy vir die 200ste opgemete plaas 'n naam moet gee, enige iets begin
neerskryf wat in sy kop kom. Soms is dit die naam van 'n meisie na wie hy
verlang," herinner Jongeling ons aan sy beperkte kennis van
landmeetkunde.
"En jy moet onthou daai 3 uitroeptekens na die 'WELKOM' is nie vir
jóu bedoel nie, maar vir die wildstropers wat snags hier kom rondry. Soms
tel hulle bande spykers op op die agterste paadjies hier rond..." deel
ek my meerdere kennis van die plek met vriend Hay.
"Plaas naambordjies het met die jare baie verander," verbreek
Dok Sarel na 'n ruk die stilte, terwyl 'n skopsuiltjie hier naby sy 'tjirp'-
roep gee. "Vroeër was dit kort en kragtig 'TWEEFONTEIN. PIET BRUMMER'.
Toe kom die emansipasie van die vrou, toe word dit 'TWYFELFONTEIN. PIET en
SARIE BRUMMER'. Daarna word die Afrikaner slim en wys, toe is dit 'HIER
SWOEG PIET en SARIE BRUMMER op SUKKELFONTEIN'.
"Die beste het ek nou die dag gesien toe ek ou Willie op sy plaas
anderkant Tarentaalrand moes gaan spuit vir 'n seer rug. Ou Willie is mos
so 'n rukkie terug op 40 eers getroud met Miena van die buurplaas. Sý toe
al 35. Toe ek so verby die plaas ingange ry, sit en kyk ek juis na die
naambordjies. 'HIER KEER MIENA vir HAAR WIEKETS' lees die voorlaaste een!
'BRANDEWYN HET NIE BRIEKE NIE. WILLIE en MIENA BARKHUIZEN' is die laaste
een voor ek by ou Willie stilhou.
"Miena nooi my in met 'n bybie op die arm. 'Dis nog van die ongeluk,
Dok' sê ou Willie waar hy in die bed lê. Miena glimlag skalks, en loop uit.
Ek sê Willie moet my eers van die ongeluk vertel. Willie vertel toe dat nie
hy of Miena eerder kon trou nie, omrede hulle nog hulle ouers opgepas het.
Sy pa is so 5 jaar, en sy ma 2 jaar vantevore dood. Miena se ouers is die
vorige jaar kort na mekaar dood. Behalwe vir die ouers oppassery, was hulle
albei maar van nature skaam. Verder as mekaar by wyksbyeenkomste sien het
dit nie gekom nie.
"Een Sondag na kerk besluit Willie, tot hiertoe en nie verder nie.
In die kas kry hy 'n bottel en 'n half Klipdrift, en hy begin die halwe
bottel drink, om moed bymekaar te skraap. Toe die halwe bottel boomskraap
is, vat hy albei, en sit af met die bakkie na Miena toe. Langs die pad maak
hy die halwe klaar, en sit die leë bottel by sy voete neer. 'Ou Dok, toe
ons kinders was, het ons baie perd gery. My pa het my geleer 'n mens kom
nie gevrek op 'n ander ou se werf aan nie. 'n Redelike galop is die regte
manier. Só ry ek die Sondag by Miena in'.
"Toe Willie die remme aanslaan, is daar niks! Hy jaag deur Miena
se waenhuisdeure, deur die muur aan die anderkant, tot binne-in Miena se
slaapkamer, waar sy op die bed lê en slaap. Of dit van skok was, kan nie
een van hulle onthou nie, maar toe hulle hulle kom kry, sit hulle altwee
op die bed, en drink saam-saam aan die ander bottel brandewyn. Later het
hy besef Miena het net onderklere aan... Die aand toe Willie met die
stukkende bakkie wil huis toe gaan, ontdek hulle die leë bottel het agter
die rempedaal te lande gekom, en verhoed dat die remme werk. Hulle is 3
maande later getroud.
"Toe ek uitstap, en vir Miena op die stoep sien sit met die bybie
op die arm, toe wonder ek of 'BRANDEWYN HET NIE BRIEKE NIE' verwys na die
ongeluk, of die bybie op die arm."
[ENGLISH SUMMARY:The chat around the fire is about silly names
for farms. Doc Sarel tells the chaps of one he saw recently while doing a
home visit, namely 'BRANDY has no BREAKES. WILLIE and MIENA BARKHUIZEN'.
Willie told him how he gathered courage to court Miena, by drinking brandy
one Sunday. After gathering enough courage, he took the almost empty bottle,
together with a full one, and drove to Miena's farm. On the way he finished
the remainder of the opened bottle, and dropped the empty bottle at his feet.
On entering the farmyard, his breakes failed, and he drove through Miena's
garage, through the wall on the other side, and ended up in Miena's bedroom
where she was taking a nap. Due to the shock caused by the incident, they
shared the other bottle of brandy. It took Willie a while to realise that
Miena was not fully clothed... On leaving later that evening, Willie
discovered that the empty bottle became stuck behind the break pedal, thus
causing the failure of the breaks. He married Miena 3 months later.
On leaving, Doc Sarel noticed that Miena was carrying a baby in her arms.
He then wondered whether 'BRANDY has no BREAKES' refered to the accident,
or the baby in Miena's arms.]