Waar's die Byl?
No.50 (31/8/2000)
"Ry jy altyd 'n byl saam?" vra vriend John, waar ons lekker moeg langs
die Hardekoolvuur by die Olifants sit.
"As ek bosse toe gaan, ja," sê ek, " 'n man weet nooit wanneer jy hom
nodig kry nie. Soos vanmiddag."
Toe ons die servituutpad teen die klipheuwel uit vat, ry ons onsself vas
teen 'n obstruksie. Die eienaars het die pad gesleep met 'n lorrieband agter
'n trekker, en die het teen 'n bultjie die gees gegee. Vir robuuste manne
soos ons was dit nie 'n probleem nie, ons haak net die band af, rol hom uit
die pad uit, en laat die trekker terug loop in die bos in. Maklik. Of so het
ons gedink.
Die band was een van daai reuse goed wat die lorries by die myn op
Phalaborwa gebruik. Ons kon hom nie roer nie. Dis toe dat ek die handbyltjie
uithaal, en begin padmaak deur die bosse. Gelukkig was dit net nodig om twee
kleinerige boompies uit te kap om 'n gangbare ompad te maak.
"Ek moet sê, jy is nie net paraat nie, jy's nogal handig met daai byl
ook," komplimenteer vriend John, terwyl ons teug aan die blikbekers.
"Dis meer as wat Jongeling kan sê," sê vriend Hay met 'n vonkel in sy
oog.
"Bleddie kwas!" sê Jongeling Dunn, waar hy taamlik bek-af eenkant sit
met 'n verband om sy arm. Gelukkig het die byl sy arm net gekneus, volgens
Dok Sarel se gerespekteerde opinie. Ons vermoed egter die feit dat
Jongeling se Discovery op die ompad vasgesit het, het sy ego meer gekneus
as wat die byl gedoen het.
"Ja, 'n byl kan lekker moeilikheid maak," sê Dok Sarel, terwyl hy teug
aan sy whisky, "soos ons eenkeer op Vanrhynsdorp uitgevind het."
"Dit was einde van die maand, en soos julle weet, kan die broers dan
maar lekker jollie raak. Tussen die jolyt deur, onthou die manne gewoonlik
van onafgehandelde verskille wat hulle met 'n ander ou gehad het, en wat
terstond uitgesorteer moet word. Die finale uitsortering het dan gewoonlik
in die ongevalle afdeling van die plaaslike hospitaal plaasgevind, en soos
julle kan dink, het dit ons dan taamlik besig gehou."
"Die betrokke Saterdagaand het dit ook maar woes gegaan, en ons moes
spook om voor te bly. Teen laataand kom daar toe 'n ou op 'n trollie in,
met 'n handbyltjie mooi stewig weggebêre in sy agterkop. Op die oog af het
hy nie enige waarneembare breinskade gehad nie, en X-strale het bevestig dat
ons die byl sou kon verwyder sonder om ernstige skade aan te rig. Met die
wete is ons operasiesaal toe."
"Toe ons in die vroeë oggendure doodmoeg daar uitstap, operasie
suksesvol afgehandel, sit daar nog een enkele siel in die ongevalle.
'Jis my ou, waarmee help ons vir jou?' vra ek.
'Ek soek my byl, meneer!'
[ENGLISH SUMMARY: Doc Sarel tells the guys about a particularly
rough evening that he once experienced in the casualty department of the
Vanrhynsdorp hospital. It was month end, and the locals were in a party
mood, which inevitably caused some of them to end up at the hospital. Late
that evening a guy was rolled in on a trolley, an axe thoroughly lodged in
the back of his head. Clinical examination revealed no obvious brain
damage, and X-rays showed that the axe could be removed savely. So they
took the chap to theatre. When they came back in the early hours,
there was only one guy left waiting in casualties. When enquiering what
they could do for him, he replied:
"I want my axe!"]