kremetart1.jpg



Die Vreemde Vrou!


No.51(31/10/2000)

"So, hoe was jou bootvaart Bazurutu toe, Jongeling?" vra ek waar ons om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit.

"Hei, dit was lekker!" sê Jongeling Dunn, en vat 'n ekstra sluk uit die blikbeker.

"Het jy nie naar geword nie?" vra Hansman.

"Brandewyn het my nog nooit naargemaak nie!" spog Jongeling, maar hy verswyg die feit dat hy voor die vaart seesiek pille by Dok Sarel gekry het.

"So, wat is nou so besonders daaraan om op 'n boot te sit en suip?" vra vriend Hay.

"Die feit dat jy omring is deur 20 meisies in bikini's," sit Jongeling sy bravade voort.

"Aag jy praat k.., nonsens!" sê sy Ouboet.

"OK, maak dit 15," sê Jongeling, "en ek het die hoofwaardin se nommer vir 'n afspraak in die toekoms!"

"Jare gelede was ek op pad Wildtuin toe vir 'n werksonderhoud," sê Nick Smith, "toe slaap ek oor by die hotel op Tzaneen. Dit was Oujaar, en ek was jonk en lewenslustig."

"Soos ek!" sê Jongeling.

"Toe ek die middag op die hotelstoep sit en bier drink, vang my oog die meisie wat aan't woel is in die haarkappersalon langsaan," gaan Nick onverpoosd voort. "Ek kan nie onthou dat ek al 'n mooier meisie in my lewe gesien het nie. Veral nie as die wind so Marilyn Monroe-styl met haar rompie gespeel het nie. Dit het rillings langs my ruggraat laat afhardloop. Die kelner wat my bier aandra, sê haar naam is Doris. Doris Rundle, van die Kaap, glo."

"Toe ou Frank Sinatra 'My way' vanuit die kroeg blêr, toe gaan stel ek myself voor aan haar. Ek vra haar sommer of ek en sy nie na die Oujaarsdans toe kan gaan nie. In 'n stem wat Bonnie Tyler jaloers sou maak, sê sy 'I've already got a date!' Ek het my teleurstelling verder in die kroeg gaan verdrink," sê Nick, terwyl dit lyk of hy dit weer probeer doen.

" 'n Jaar of wat terug dink ek toe mos weer aan haar, en besluit ek het onafgehandelde sake op Tzaneen. Ek bespreek toe telefonies vir my plek by die hotel, en verneem sommer van die ontvangsdame of Doris nog in die rondte is. Werk by die juweliers oorkant die straat, vertel sy my." Nick vat nog 'n paar teue uit die blikbeker.

"Toe bel ek haar ook sommer. Dieselfde fluweelstem. Ek verduidelik, en ek kan hoor sy is so opgewonde soos 'n tienermeisie. Nee, nooit getroud nie. Nie 'n man in haar lewe nie. Ja, sy sal saam met my gaan uiteet!"

"Die volgende dag trap ek die Peugot van Satara af. Om my in die regte gemoedstemming te kry, luister ek liedjies soos 'Lady in red', en so. By die hotel boek ek by die wittebroodsuite in." Nick vat 'n paar ekstra teue.

"Na 'n lekker bad, stap ek oor na die juwelierswinkel toe. Daar werk 'n hele paar vrouens, maar nie een van hulle lyk vir my soos Doris nie. Ek vra vir so 'n lelike vette waar Doris Rundle is.

'I am Doris,' sê sy!"


[Met apologie, en ter herinnering aan die werklike Doris Rundle, wat hierdie jaar in die ouderdom van 89 jaar oorlede is, en 'n wonderlike sin vir humor gehad het. En nooit vet en lelik was nie!]


[ENGLISH SUMMARY: Nick Smith tells the guys about the most beautiful and sexy girl, Doris Rundle, that he once met on a stopover in Tzaneen. It was New Years eve, and he asked her to accompany him to a dance. He was highly disappointed when she told him that she already had a date for the evening. Many years later he thought about the incident, and decided to contact her. He was delighted to hear that she was still unmarried. Even more so when she said he could take her out for dinner.

Nick was very excited, and immediately made arrangements to visit her. He booked in at the local hotel, and after having a bath, walked over to the jewellery shop where she worked. There were quite a number of women working in the shop, but he didn't recognise one of them as Doris. He then asked the nearest one, a rather obese and ugly woman, where he could find Doris.

"I'm Doris," she replied!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!