kremetart1.jpg



Die SLAG van JENKINS se PAAL.


No.52 (30/11/2000)

"Die Super 12 is 'n gemors en moet afgeskaf word!" sê Jongeling Dunn waar ons om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit.

"Wel, komende van 'n Bulls ondersteuner, is dit nie vir ons snaaks dat jy so 'n stelling maak nie, Jongeling," sê vriend Hay, nadat ons almal tot verhaal gekom het, "maar as julle nie so onnosel was om Braam van Straaten Kaap toe te laat gaan het nie, sou dit dalk met julle beter gegaan het!"

"Ek sou nie juis gepraat het as ek 'n Cats ondersteuner was nie," kap Jongeling terug, "maar die afrokkeling van ons spelers is deel van die probleem. Ek sê die Curriebeker is dié kompetisie, en ons moet daarop konsentreer."

"Miskien moet jy Loftus toe ry en vir oulaas gaan kyk hoe lyk die Curriebeker, Jongeling, want julle gaan hom vir 'n lang tyd nie weer ruik nie!" kry vriend Hay nog 'n hou in.

"As ek jou reg verstaan, verlang jy terug na die isolasie jare toe Curriebeker voetbal die hoogtepunt van ons bestaan was, Jongeling," sê Dok Sarel.

"Net so, Dok," sê Jongeling, "en toe dit ongehoord was vir die WP spannetjie om op Loftus te wen!"

"Die WP teen Noord-Transvaal wedstryde was daai tyd natuurlik soos toetswedstryde, met die Tukkie-Matie wedstryd 'n kortkoppie daar agter," lig Dok ons in oor sy jeugjare.

"Het jy ooit die intervarsities bygewoon, Dok?" vra Hansman.

"Watwou, ek was 'n gereelde lid van die verwelkomingskomitee!" sê Dok, met 'n trotse stemtoon.

"Wat was julle pligte, Dok?" vra Jongeling.

"Ons plig was om voor die begin van die hoofwedstryd op die veld te gaan, en die skare te vermaak met allerhande manewales. Dit nou in weerwil van die aankondiger se herhaalde pleidooie dat ons dit nie moes doen nie!"

"Dit klink na groot pret," sê Jongeling met bewondering.

"Gevaarlike werk, ou maat," sê Dok, "want met die polisiekollege in Pretoria, is die intervarsity beskou as goeie opleiding in skarebeheer vir student konstabels. Verskeie van my makkers moes die Maandag daarna 'n draai in die hof gaan maak, soos ou Michal van Rooyen, wat 'n netjiese skepskop oorgeklits het met 'n konstabel se pet."

"Die polisie se nemesis was natuurlik Tom Jenkins," sê Dok, terwyl hy 'n diep teug aan sy whisky vat. "Hy was die hoofvermaakkunstenaar, en het 'n ongelooflike vermoeë gehad om teen voetbalpale op te klim. Een jaar het hulle gedink hulle gaan hom troef deur doringdraad om die pale te draai, maar dit het net die effek gehad dat Jenkins tot op die bopunt van die regoppaal geklim het, en geweier het om af te klim. Toe stuur hulle die honde eenheid om hom te kom verwyder."

"Toe skree Jenkins vir hulle dat hy net sal afklim as hulle heeltemal padgee, en hom in vrede los as hy af is. Toe loop die polisie, maar sodra Jenkins op die dwarslat kom, storm hulle nader. Dan klim hy net weer hoër. Die uiteinde was dat hulle hom in vrede gelos het."

"Kort daarna kry Jenkins toe 'n brief van Noord-Transvaal Voetbalunie waarin hulle hom meedeel dat hy Loftus verbied is in die toekoms. 'n Ietwat belaglike en naïewe besluit, want hoe sou hulle 'n student ooit van Loftus kon weghou. Met die intervarsity in sy laaste studiejaar was Jenkins soos gewoonlik op sy pos bo-op die regoppaal. Ter herinnering aan al sy eskapades, het hy besluit om 'n aandenking saam te vat. Bo-op daai paal is 'n houtprop wat keer dat reënwater in die paal inloop. Jenkins haal dié toe af, en vat dit saam."

"Skaars 'n week later kry Jenkins weer 'n brief van Noord-Transvaal. Hulle weet hy het die prop, en soek hom terug, anders dagvaar hulle hom. Jenkins draai toe 'n presiese replika van hout, en gaan lewer dit persoonlik af by Noord-Transvaal."

"Twee weke later kry Jenkins 'n R2 000 rekening van Noord-Transvaal. Hulle moes spesiaal 'n hyskraan huur om die prop terug te sit. Toe gaan sit hy en skryf vir hulle 'n brief:

'Waarde Heer,

U skrywe rakende die terugplaas van die houtprop het betrekking.

As u van my dienste gebruik gemaak het, sou ek dit gratis gedoen het.'!


[ENGLISH SUMMARY:Doc Sarel tells the guys about some student antics during the yearly rugby intervarsity. One chap, Tom Jenkins, had an uncanny ability for climbing up poles, and made a habit of climbing the rugby posts immediately before the start of the main match. The obviously delay that this caused, was an annoyance, so one year the rugby authorities put barbwire around the uprights. This couldn't put Jenkins off, and he celebrated his abilities by climbing right to the top of the upright. This prompted the authorities to ban him from future matches, an exercise in futility, since it was impossible to keep a student away from a rugby stadium.

In his final year, Jenkins was literally at his post came intervarsity. This time he decided to take a souvenir with - he removed the wooden plug that served the purpose of keeping water out of the hollow post. Within a week he received a letter, requesting him to return the plug, or face prosecution. Jenkins duely made a replica and returned that to the authorities.

Two weeks later he received an account to the amount of R2 000. Apparently a crane had to be rented to replace the missing plug. Jenkins replied by letter:

'Dear Sir,

Concerning your letter regarding the costs involved in replacing the missing plug, I would have done it for you for free!

Yours truely,

Tom Jenkins.]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!