kremetart1.jpg



'n SKOOT in die DONKER


No.53 (31/12/2000)

"Nou vir wat sit jy hier eenkant met jouself en praat?" vra ek, waar ons langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit.

"Ek vermoed lankal hy is besig om mal te word," sê vriend Hay.

"Miskien is jy reg," sê Jongeling Dunn, die onderwerp van bespreking, "maar ek probeer net 'n paar dinge vir myself uitsorteer. Dinge wat 'n mens maklik mal kan maak."

"Watse dinge, Jongeling?" vra vriend John bekommerd.

"Die ekonomie, die korrupsie, die misdaad, die Bokke wat sukkel op die rugbyveld. Vang hierdie goed julle ouens nie ook nie?"

"Ja, dit bekommer ons ook, Jongeling, maar dit gaan niks help om te staan en mal raak daaroor nie," sê ek.

"Die predisposisie tot geestelike wanfunksionering is multifaktoriaal," sê Dok Sarel, en teug aan sy whisky.

"Multifak en wat?" vra Jongeling terwyl hy stik aan sy blikbeker.

"Jongeling, jou taal laat veel te wense oor," sê Dok, "maar op gewone Afrikaans beteken dit dat daar baie redes is hoekom mense sogenaamd mal raak. Soos in jou geval kan dit 'n opbou van verskeie faktore wees wat die individu uiteindelik laat knak, ander kere is dit 'n enkele gebeurtenis wat die sneller trek."

"Dis mos wat glo met ou Johnny Pistool gebeur het," sê Hansman, "Letterlik en figuurlik, kan 'n mens maar sê."

"Praat jy nou van ou Johnny wat die trollies daar by Checkers bymekaarmaak?" vra vriend John. "Tzaneen se eie dorpsidioot?"

"Einste. Hy was saam met my op skool, en het 'n lewendige belangstelling in die uitvoerende kunste gehad," gaan Hansman voort. "Hy het in al wat skoolkonsert is gespeel, en het visioene gehad van hoe hy eendag Hollywood toe gaan en beroemd sal word. Maar dit het alles 'n tragiese einde gehad toe 'n Engelse toneelgeselskap op Tzaneen kom besoek aflê het."

"Die ouens het so van dorp tot dorp getoer voor die dae van televisie. In die spesifieke opvoering was daar 'n klein rolletjie waarvoor hulle sommer iemand plaaslik gekry het. Ou Johnny het vooraf van die storie te hore gekom, en gesorg dat hy daar was vir die rol. Al wat ou Johnny moes doen, was om op 'n spesifieke stadium op die verhoog te kom en te sê:

'Hark, I hear a pistol shot.'

"Net dit. Nou of dit die Engels was, of die intense kollig wat op hom geval het, weet niemand nie, maar toe Johnny se oomblik van glorie aanbreek, stap hy op die verhoog, en sê:

'Hark, I hear a sistolpot!'

"Soos enige groot kunstenaar, het Johnny onmiddellik besef hy het 'n fout gemaak, en soos enige groot kunstenaar probeer improviseer met:

'Apostlesit! ... Oh shucks, I'm shot! ... Oh flip, I'm fired!' ... !"


[ENGLISH SUMMARY:After Youngster Dunn showed signs that he is not all there due to stress, Doc Sarel explain to the chaps that the reasons for mental illness are multifactorial. Sometimes it is caused by a build up of several stress factors, and at times by a single stressfull experience.

Hansman tells the guys that the latter is what he believes happened to Johnny Pistol, the local village idiot.

Johnny had a keen interest in performing arts, and took part in all school concerts, dreaming of one day making it to Holywood, and becoming famous. His big chance came when a drama company visited the town. In their play they had one very small role for which they recruited someone locally. Johnny's application was successful, and all he had to do, was to appear on stage, saying, 'Hark, I hear a pistol shot'.

Whether it was the stress of the occasion, or the intense bright lighting, no-one knows for sure, but when Johnny eventually made his appearance, he said:

'Hark, I hear a sistolpot!'

Being the great actor that he thought he was, Johnny immidiately realised that he had made a mistake, and improvised:

'Apostlesit! ... Oh shucks, I'm shot! ... Oh flip, I'm fired!']





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!