KULTUURSKOK!
No.54 (28/2/2001)
"Dinge gaan nou te vêr," sê Jongeling Dunn, waar ons om die Hardekoolvuur
langs die Olifants sit. "Ek hoor die kinders sing nou al Nkosi Sikeleli by
die laerskool."
"As ek dit reg het, maak Nkosi saam met Die Stem deel uit van ons volkslied,
Jongeling," sê ek. "Ek verstaan nie jou probleem nie."
"Man, dis net nog verdere ondergrawing van die Afrikaner se kultuur," sê
Jongeling gebelgd. "Julle moes meer weerstand gebied het!"
"Die feit is, Jongeling," sê vriend John, wat self op die skool se
beheerliggaam dien, "ons het nie 'n keuse gehad as om die Engelse kinders te
akkommodeer nie. Soos jy self weet, het ons dorp nie 'n staatskool met Engels
as voertaal nie."
"Engels se gat!" sê Jongeling. "Daai kinders se huistaal is Sotho of
Sjangaan. Ek sê julle, dis net 'n verskoning vir kulturele vermenging, en
gevolglik ondermyning."
"Wel, dit het nie vir my gelyk of julle op die atletiekveld ondermyn is
nie," sê vriend Hay. "Vir my was dit duidelik dat die sogenaamde Engelse
kinders julle skool baie gehelp het om ons neuse in die grond te vryf. Ek
weet nie wat kla jy nie."
"Dis sport, vriend Hay," sê Jongeling, "ek praat van kultuur! Goed soos
sang, en dans, en so aan. Soos wat dinge nou gaan, toyi-toyi ons kinders een
van die dae."
"Wel, Jongeling, dan sal dit jou verheug om te hoor dat die Engelse
kinders verlede jaar baie ywerig deelgeneem het aan die skoolkonsert. Het jy
al gehoor hoe sing hulle Afrikaanse liedjies? As jy my vra, vryf daar
waarskynlik meer van ons kultuur op hulle af as andersom," draai vriend John
Jongeling se argument op sy kop om.
"Ja, kinders het 'n manier om mekaar te beïnvloed," verbreek Dok Sarel
na 'n ruk die stilte. "Nou onlangs moes ou Willie Nel se huishulp 'n groot
operasie ondergaan. Die probleem was, wat om in die tyd te maak met haar
4-jarige seuntjie wat by haar ingewoon het."
"Die oplossing," sê Dok, na 'n teug aan sy whisky, "was vir Willie om
klein Sipho tydelik by hulle in te neem. Tot groot vreugde van Ewald en
Pierre, sy seuns van 5 en 3, natuurlik. Hulle het die dae omgespeel, saans
al drie saam gebad, en dan het Willie hulle saam in 'n groot dubbelbed gesit.
Nadat hy vir hulle gelees het, groet hulle op 'n ry:
'Nag, Pa,' sê Ewald. 'Nag, Pa,' sê Pierre. 'Nag, Baas,' sê Sipho.
Ou Willie het regtig hard probeer om klein Sipho in te lig oor die
aanvaarbare aanspreekvorm, maar tevergeefs. Vir drie aande gaan dit op
dieselfde stryk voort, maar op die vierde aand toe verander dit:
'Nag, Pa,' sê Ewald. 'Nag, Baas,' sê Sipho. 'Nag, Baas,' sê klein Pierre!"
[ENGLISH SUMMARY:Using the story of Willie Nel's children, Doc
Sarel tells the guys how children can influence one another. Willie's
housekeeper had to have an operation, but the problem was what to do with her
4 year old son, Sipho. Willie decided to take Sipho in with them for this time,
much to delight of his own sons, Ewald, 4 and Pierre, 3. They played for days
on end, and in the evenings bathed together. Then Willie put the three of them
in one double bed, and read for them. After this, they said good night:
'Good night, Dad.' 'Good night, Dad.' 'Good night, Sir.'
This went on for three nights, but on the fourth it changed:
'Good night, Dad.' 'Good night, Sir.' Good night, Sir.'! ]