kremetart1.jpg



Die TROFEE BOK!


No.55 (31/3/2001)

"Julle moet maar stadig kou," sê vriend John, waar ons aan 'n stukkie wildsbiltong sit en kou langs die Hardekoolvuur by die Olifants. "Wildspryse was bra buitensporig die jaar."

"Dankie, dis lekker," sê ek. "Wat vra hulle deesdae?"

"Ag, dit wissel, maar koedoes het gegaan vir so R2 500 en rooibokke vir R200-300," lig vriend John ons in. Ons is dit met hom eens dat dit ietwat buitensporig is.

"Dis die oorsese jagters en die kwansuise professionele jagters se skuld," sê Jongeling Dunn. "Ek sê dis 'n skelmspul, en hoog tyd dat die regering dit verbied!"

"Stadig, stadig, ou maat," sê vriend Hay. "Daai ouens bring geld die land in. Valuta noem ons dit, maar jy sal dalk nie verstaan nie. Miskien kan Klein Koos jou vertel hoe dit werk."

"Ja-wel, dis maar soos vriend Hay sê," sê Klein Koos de la Rey, die professionele jagter. "Die oorsese ouens het oor die algemeen te veel geld, dan kom blaas hulle dit op 'n jagsafari in Afrika."

"Dis presies wat ek sê," sê Jongeling, "julle breek julle bene agter mammon aan, en intussen moet ons deur ons nekke betaal vir 'n stukkie wildsbiltong."

"Oor die algemeen soek hulle net die trofee, of selfs net 'n foto," wend Klein Koos nog 'n poging aan. "Die vleis word dan goedkoop beskikbaar gestel aan die plaaslike bevolking."

"Of beland ten duurste in die plaaslike slaghuis," raak-raak Jongeling aan die waarheid.

"Wel, die feit is, die ouens bring geld in, en dit kom in omloop, wat die ekonomie help. Soms op 'n onverwagse manier, soos met die Amerikaner wat ek onlangs hier langs die Olifants gehad het.

Die ou het 'n pakket gehad wat bestaan het uit 'n buffel, leeu, koedoe, blouwildebees en 'n swartwitpens. Hy was 'n ywerige jagter, en ons het baie geluk aan ons kant gehad, sodat hy sy volledige pakket in 5 dae kon kry. Die res van die tyd kon ons toe gebruik om rustig die trofeë voor te berei, en sommer net rondry. Op die agtste dag kom ek agter die ou is kriewelrig, en ek vra hom wat skort.

'I need another trophy,' sê hy.

Ek verduidelik toe mooi aan hom dat hy net permitte het vir die goed wat hy reeds geskiet het, en enige iets bykomstig sal vir my en vir hom 'n oneindige klomp moeilikheid op die hals haal. Terwyl ons so ry, skreeu hy skielik:

'Stop! Stop! What an amazing specimen!'

So 'n entjie van die pad af het Solomon se boerbokram rustig aan 'n haak-en-steek gestaan en vreet, en ek moes hard keer om my lag te bedwing.

'Please let me have him,' sê hy.

Nou kyk, as ek nie so hard moes keer om my lag te onderdruk nie, sou ek aan hom verduidelik het dat dit nie 'n wilde dier is nie. Ek sweer. Maar toe sê hy:

'I'll pay you $10 000.'

Toe besef ek die man se behoefte is groot, en dat ek as professionele jagter 'n verantwoordelikheid teenoor my kliënt het. Toe laat ek hom maar begaan, op voorwaarde dat ons net 'n foto neem en nie die trofee ook nog voorberei nie!"

"Sollie was seker woedend oor sy bok?" sê ek.

"Nie nadat ek hom R1 000 daarvoor betaal het nie," sê Klein Koos.

"En om stil te bly!" voeg hy by, met 'n stout uitdrukking op sy gesig.


[ENGLISH SUMMARY:Klein Koos de la Rey, a professional hunter, tells the guys about an American hunter that he took for trophy hunting. Things worked out quite well for them, and his client bagged his quota within a few days. This left them with ample time to prepare the trophies and do some sightseeing.

After a day or two he realised that his client was restless, and discovered that he wanted to shoot some more, but since they didn't have the necessary permits, Klein Koos couldn't allow that.

Whilst driving through the bush, his client suddenly ordered him to stop - amongst the bushes a good specimen domestic goat was grazing. Thinking that it was a wild animal, the American offered Klein Koos $10 000 to allow him to shoot it. Klein Koos, being someone in touch with the needs of his clients, happily obliged!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!