kremetart1.jpg



MALELANE se SANGOMA


No.57 (30/6/2001)

"Wat vir 'n ding het jy daar om jou nek, Sollie?" vra vriend John, waar ons om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit.

"Dis muti wat ek by die sangoma op Namakgale gekry het vir my seer rug," sê Solomon, terwyl hy ongestoord die pappot roer. "Dis nog van die keer toe die buffel my in die knoppiesdoring in gejaag het."

"Toordokter medisyne! Sollie, jy's onnosel, man!" sê Jongeling Dunn. "Daai goed sal nie werk nie. Hoekom vra jy nie liewers vir Dok Sarel om jou eerder 'n Voltaren te spuit nie?"

"Hy't my klaar gespuit," sê Sollie, "maar die muti sal my regkry, jy sal sien."

"K..twak, Sollie, daai goed werk nie!" sê Jongeling. "Dis die inspuiting wat jou gaan beter maak."

"Dit werk," sê Sollie net voor hy loop, "maar net as jy glo dit sal werk. Jy glo nie, daarom sal dit nie vir jou werk nie."

"Hy is natuurlik heeltemal reg," sê Nick Smith nadat Sollie weg is. "My swaer Piet wat die slaghuis op Malelane het, kan daarvan getuig. Op 'n dag stap daar 'n sangoma by hom in, en begin vleis koop. Net die beste snitte. R300 se vleis in totaal. Toe alles mooi toegedraai is, vat hy die vleis en loop.

'Hokaai,' sê swaer Piet, 'jy moet betaal!'

'Aikonna,' sê die sangoma, 'ek is 'n sangoma, ek kry!'

'Kyk,' sê swaer Piet, 'ek gee nie om of jy die koningin van Engeland is nie, hier betaal jy of ek donner jou!'

Die sangoma het seker gesien swaer Piet meen besigheid, want toe haal hy 'n rol note iewers uit en betaal. Toe die sangoma buite op die stoep kom, het daar 'n kleinerige skare swartmense versamel wat wou sien wat aangaan. Toe sit hy sy pak vleis neer en haal 'n bokhorinkie van sy heup af. Uit die horinkie sprinkel hy 'n poeier al op swaer Piet se slaghuis stoep.

Nou kyk, swaer Piet het goed besigheid gedoen onder die swartmense van Malelane, maar na daai poeier gestrooi is, was sy besigheid dood. Morsdood. Hy het probeer uithou, maar 'n man moet lewe. Dit kos hom toe 'n ander sangoma op Hectorspruit loop haal, wat 'n ander, sterker muti op sy stoep kom strooi om die eerste muti te neutraliseer sodat hy sy klandisie kan terugkry."

"Het dit gewerk?" vra Jongeling Dunn effens verslae.

"Natuurlik het dit gewerk," sê Nick, "maar hy moes R500 en 'n slagbok opdok vir die sangoma se dienste!"


[ENGLISH SUMMARY:The guys discuss the merits of witchdoctors, or sangomas. Youngster Dunn states unequivocally that he does not believe that sangomas have any real power. Nick Smith believes the opposite, and uses a prevous experience of his brother-in-law, Piet, to explain.

Piet owns a butchery in Malelane, and his customers are mainly black people. On a particular day a sangoma entered the butchery and ordered some meat, mostly prime cuts. Piet told the sangoma that it would cost him R300, to which the sangoma replied that because of his status, he should receive the meat for free. Piet was highly upset, and started threatening the sangoma, who eventually paid up.

Once outside the butchery, the sangoma took a small antelope horn from his belt, and started sprinkling a fine powder on the ground in front of the butchery, being witnessed by quite a number of Piet's usual clientile. Not surprisingly, Piet's business came to a virtual standstill.

In an effort to save his livelihood, Piet had to rent another sangoma to sprinkle a neutralising substance in front of the butchery. It worked, but the exercise costed him a goat and R500!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!