HOOR jy die TROMME, FERNANDO?!
No.58 (31/8/2001)
"Hei, dit klink my die manne hou weer groot party vanaand!" sę vriend John,
waar ons langs die Hardekoolvuur by die Olifants sit, terwyl die ritmiese klank
van Afrika tromme deur die bos kom van Mica se kant af.
"Ja-nee, hulle slaan hom met oorgawe vanaand," sę ek, "dit laat verlang my
sommer na oorlede Jim Reeves!"
"Nou praat jy!" sę vriend John, en staan op om sy kitaar te gaan haal,
terwil hy Distant Drums neurie.
"Ek wonder of daai storie waar is dat hulle boodskappe met die tromme kan
stuur?" vra Hansman, terwyl hy die blikbekers optop.
"Aag, daai storie van 'n kwansuise bostelegraaf is sommer nonsens!" sę
Jongeling Dunn. "Dis dieselfde ou deuntjie oor en oor, ek hoor g'n boodskap
nie."
"Net so min as wat jy 'n morsekode boodskap sal verstaan, Jongeling!" sę
vriend Hay. "Verstaan jy wat daai tromme sę, Solomon?"
"Ja," sę Sollie, "hulle sę daar's baie bier, ek moet kom paartie hou!"
"Ek weet ook nie so mooi van die boodskapstorie nie," sę Dok Sarel toe
Sollie weg is, "maar julle moet toegee dis 'n mooi deel van Afrika se romantiek.
Veral as hulle daai tromme slaan vir aandete in die wildtuin, en 'n leeu brul in
die verte, of 'n hiëna roep, dan gee dit 'n mens 'n gevoel van vervloeë Afrika."
"Ja, so 'n ruk terug kom Johan Steyn mos op 'n Woensdagmiddag daar by my
aan op Satara," sę Nick Smith. "Ou Johan is die veldwagter daar bo langs die
Olifants, en gewoonlik sien ek hom net in die rugbyseisoen, want hy hou nie 'n
radio of 'n TV aan nie. Ook nie 'n horlosie nie, maar dis 'n ander storie."
'Wie speel?' vra ek, maar Johan lag net verleë.
"Dit kom toe uit dat daar geweldig probleme is met wildstropery op die
Mosambiekgrens onder by Nuanetsi. Hulle het inligting gekry dat die stropers
die nag gaan toeslaan, en hulle gaan 'n operasie uitvoer om hulle te vang.
Eintlik het hy net kom groet. Laatmiddag toe ry hy daar weg met 'n klomp van
Satara se veldwagterkadette agter op sy bakkie.
"Toe die son sak, sit ek en Sarie 'n drankie en drink, en toe die tromme
van die restourant se kant af begin praat, kry ek dieselfde gevoel waarvan Dok
nou-nou gepraat het.
'Snaaks,' sę ek vir Sarie, 'hulle slaan 'n ander ritme vanaand as die
gewone.'
'Ja,' sę Sarie, 'dis amper of hulle met meer dringendheid speel as gewoonlik,
en verbeel ek my, of speel hulle langer ook as gewoonlik?'
"Vroeg die volgende môre klop Johan aan my voordeur, op soek na koffie. Ek
verneem hoe dit gegaan het met hulle oprasie.
'Sleg,' sę Johan, 'nie 'n siel in sig nie. Maar ons bron sweer hoog en laag
die stropers was op pad, maar het kort duskant die grens omgedraai. Ek sę jou,
'n mens kan nie meer op hulle staatmaak om goeie inligting te kry nie.'
"So 'n maand of twee later is Johan weer daar. Selfde storie. Intussen het
ek so 'n bietjie gedink, en vertel hom van die tromme die vorige keer. Daai nag
vang hulle sewe stropers!"
"En wat het die tromme daarmee uit te waai?" vra Jongeling.
"Niks," sę Nick, "ons weet mos almal jy kan nie boodskappe met tromme stuur
nie. Maar as 'n voorsorgmaatreël, net vir die wis en die onwis, miskien, het ek
en Johan Satara se tromme daai middag in my garage gaan toesluit!"
[ENGLISH SUMMARY:Whilst listening to the beat of African drums
emanating from some distance away, the chaps argue whether it is possible to
send messages with these drums, as the story goes. The general consensus is
that it is not possible, but still a nice part of African folklore.
Nick Smith goes on to tell the guys how Johan Steyn, one of Kruger Park's
rangers paid him a visit one afternoon. Johan was on his way to where the park
borders on Moįambique for an anti-poaching operation, after receiving a tip-off.
Quite a few of Satara's game scouts accompanied Johan, and after he left, Nick
enjoyed a sundowner. During this time the beating of drums sounded from the
restaurant, to announce dinner, as is the custom. It struck Nick that the beat
of the drums were different from the usual - there was more urgency in it, and
it seemed to be lasting longer than the usual, as well.
The next morning Johan arrived back, highly dissappointed. Their informer
assured them that the poachers were on their way, but inexplicably turned back
just short of the border.
About two months later Johan arrived again, on a similar mission. This time
Nick told him about the drums. That night they caught seven poachers - after
locking away the drums before leaving!]