kremetart1.jpg



RUGBY OP LOFTUS


No.6(24/7/1998)

"Dis 'n kwade dag vir voetbal in Suid-Afrika!" spoeg Dok Sarel dit uit, terwyl hy half verstik in sy whisky. Dok is nog van die ou garde wat van 'voetbal' praat, en nie rugby nie. Soos wat dit nou maar gaan, is die rugby lojaliteite hier langs die hardekoolvuur maar erg verdeeld. Ek en vriend John is WP manne, vriend Hay is 'n Transvaal man, en groot en dapper genoeg om dit te sê. Die Dunn broers, Hansman, Mortier en dié snare is Noord-Transvalers, en in die meerderheid. Dok Sarel het nog nooit sy ware kleure gewys nie, maar volgens hom is hy lojaal aan Voetbal en Suid-Afrika, in daai volgorde.

Dok se ontevredenheid spruit daaruit dat die Blou Bulle so pas Natal 'n loesing gegee het in die Super12 kompetisie, en Natal se kanse daarmee heen is om 'n tuis eindstryd teen 'n Nieu-Seelandse span te hê. Dit beteken die trofee gaan al weer Nieu-Seeland toe.

"Dok, as hulle so goed is soos wat almal sê, sou hulle vandag gewen het. Dis so eenvoudig soos dít. Hulle het net hulle self te blameer, en ek lag vir hulle," gooi Jongeling olie op Dok se vuur.

"Kyk Jongeling, dis nou tipies van julle Noord-Transvalers! Ek sal jou sê wat die probleem is. Die hele ding was vooraf uitgewerk - Noord-Transvaal sou op hulle tuisveld helse weerstand bied teen Natal, maar in die doodsnikke toelaat dat Natal die wendrie druk, in belang van Suid-Afrikaanse voetbal. Maar daar is te veel dom ouens in daai span van julle, en soos jy, verstaan hulle toe nie mooi die draaiboek nie, en loop staan en befomfaai alles. Selfs 'n Noord-Transvaal ondersteuner in Singapoer sal dit kan insien, maar jy nie, Jongeling! Ek sê jou, dis 'n kwade dag!" pak Dok af.

"Dis maar hoe ons Boere is, ons kan nie saamwerk nie. Ons is geteel om so te wees," probeer Ouboet Dunn kalmte bring, alhoewel hy 'n kort rukkie gelede net so bly was oor sy span se oorwinning.

"Boere se gat, man! Natal is 'n klomp souties. Het jy vergeet van die Vryheidsoorlog, en die vroue en kinders in die konsentrasiekampe?" Jongeling is duidelik woedend oor Dok se uitlatings oor sy geliefde Blou Bulle.

"Luister ouens, ek dink ons raak nou te warm onder die kraag. Ek het helse moeite gehad om die kragopwekker, die dekodeerder, antenna en alles gereël te kry sodat julle die rugby hier langs die Olifants kon kyk. Kom ons los dit nou, en geniet die res van die naweek," probeer ek die situasie beredder.

Vir 'n oomblik is daar stilte terwyl ons kyk hoe die son sy laaste strale teen die randte aan die oorkant gooi. Vriend Hay gooi nog 'n stomp op die vuur.

"Verlede jaar het ek, my swaer en my ou skoonpa op Loftus gaan kyk hoe speel Noord-Transvaal teen Transvaal," sê vriend Hay toe dit lyk of almal bedaar het. "Noord-Transvaal het toe mos al verloor teen spannetjies soos SWD, Noord-Vrystaat en Oos-Transvaal, en jy kon kaartjies op enige plek te koop kry. Ons stop toe sommer by die apteek op Hoedspruit. Skoonpa sê hy sal die kaartjies kry, want hy ken die vrou wat in die apteek werk. Na 'n lang gewag kom Skoonpa terug, met 'n helse groot kartonboks onder die arm. 'Ry maar,' sê hy toe hy sit."

" 'Wat is in daai boks?' vra Swaer toe ons so 'n entjie weg is. 'Kondome,' sê Skoonpa, '200 van die goed.' Ek en Swaer kyk vir mekaar, en grinnik onderlangs. Skoonma is nou al meer as 'n jaar oorlede, en ons wonder watse planne Skoonpa in die mou voer."

" 'Ek was te skaam om te vra vir kaartjies vir 'n Noord-Transvaal wedstryd!' "


[ENGLISH SUMMARY: After a small argument concerning Natal's lost against Northern Transvaal in the Super12 rugby competition, friend Hay tells the guys how his brother-in-law, father-in-law and himself went to the Transvaal vs Northern Transvaal game the previous year. At that stage Northerns had a number of losses against minor teams behind them, and match tickets were easy to come by, and were sold anywhere. They stopped at the pharmacy in Hoedspruit, and his father-in-law went to buy the tickets. He came back with a big box under his arm. It turned out that he bought 200 condoms, because he was to embarrassed to ask for tickets for a Northerns game!]




TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!