KAMOEFLEERDRAG!
No.60 (30/11/2001)
"Dink jy nou regtig jy kan met daai klere aan gaan wild kyk?" vra Jongeling
Dunn waar ons om die Hardekoolvuur langs die Olifants sit.
"Dis die nuutste tegnologie, Jongeling," sê vriend Hay, geklee in
helderblou kamoefleerdrag, "dit maak my onsigbaar vir diere."
"Dit lyk nie juis vir my of jy onsigbaar is nie," sê Jongeling, "en jy gaan
ook nie onsigbaar wees as ons in die bos is nie."
"Dis die hele idee, Jongeling," sê vriend Hay, "vir jou is ek baie goed
sigbaar, maar nie vir die diere nie."
"Wel dit maak nie vir my sin nie," sê Jongeling met 'n vraende uitdrukking
op sy gesig.
"Dit werk so, Jongeling," sê ek terwyl Hansman die blikbekers optop, "diere
kan nie kleure sien nie, net skakerings van swart en wit. Daarom maak dit nie
eintlik saak wat die kleur van kamoefleerdrag is nie. Mense, soos jy hopelik
weet, kan wel kleure waarneem. Daai klere wat vriend Hay aan het maak juis dat
mense hom goed kan raaksien in die bos, en hom nie dalk per ongeluk raakskiet
nie. So, terwyl hy nou gekamoefleer is vir die diere, is hy terselfdertyd baie
goed sigbaar vir medejagters."
"Nou hoekom het hy nie in die eerste plek so gesê nie?" vra Jongeling.
"Omdat ek nie seker is dat jy selfs na die verduideliking verstaan nie!"
sê vriend Hay.
"Ja, klere en die onsigbaarheid daarvan kan soms tot ongemaklike
misverstande lei," sê Dok Sarel terwyl hy teug aan sy whisky, "soos wat ek
verlede week by Rus-'n-bietjie ouetehuis op Duiwelskloof moes leer. Oom Nic
Schoeman se hart was nie lekker nie, toe moes ek soontoe.
'Dis ou Lettie Vermaak se skuld dat my hart nou so neuk, ou Dok,' sê Oom
Nic toe ek daar aankom.
"Nou tant Lettie se kop is lankal nie meer lekker van die Alzheimer nie,
en sy is besonder vergeetagtig. Die oggend het sy vergeet om klere aan te trek
nadat sy gebad het, en op die manier stap sy toe poedelnakend in die eetsaal
in terwyl die oues aansit vir ontbyt.
'Ou Tokkie, sien jy ook wat ek sien?' vra oom Nic toe tant Lettie instap.
'Ja, ou Nic, ek sien wat jy sien,' sê Oom Tokkie Greeff terwyl hy stik
aan sy pap.
'Dink jy nie ook dis 'n bleddie skande nie, ou Tokkie?'
'Ja, ek dink ook dis 'n verdomde skande, ou Nic.'
'Wat dink jy sal dominies Steyn dink as hy daarvan hoor?'
'Ek dink hy sal ook dink dis 'n verdomde skande.'
'Nou wat gaan ons daaromtrent doen, ou Tokkie?'
'Ons moet vir haar 'n strykyster koop, ou Nic.'
'Om wat mee te maak?'
'Om daai rok wat sy aan het 'n slag te stryk,' sê oom Tokkie!"
[ENGLISH SUMMARY:Doc Sarel tells the guys about an embarassing
incident at the local old age home recently. Aunt Lettie Vermaak is not quite
all there due to Alzheimer's disease, and is forgetful to the extreme. On the
particular morning she forgot to put on clothes after having a bath, and so it
happened that she strolled into the diningroom completely naked.
Oom Nic Schoeman enquired whether Oom Tokkie Greeff had seen the spectacle.
Oom Tokkie answered in the affirmative, stating that he thought it was
scandalous. Oom Nic agreed, but wanted to know what they could do about the
situation.
'Buy her a flat-iron,' Oom Tokkie said, 'that dress she's wearing is in
desperate need of ironing.'!]