kremetart1.jpg



Die GEESVANGER!


No.61 (31/1/2002)

"Genade, my ou, maar jy's bleek! Is jy siek?" vra vriend John toe vriend Hay laatnag by ons aansluit by die Hardekoolvuur langs die Olifants.

"Ja, hy lyk omtrent soos ek toe ek laas malaria gehad het," sê Ouboet Dunn, wat 'n ruk van tevore die prys moes betaal van beter weet as Dok Sarel oor malaria voorkoming.

"Dit lyk eerder vir my of hy 'n spook of 'n ding gesien het," sê Jongeling Dunn.

"Jy weet, Jongeling, soms is jy slimmer as wat jy lyk," sê vriend Hay, "want dis presies wat gebeur het."

"Toe ek die hek by die beeskraal toegemaak het," hervat hy nadat hy sy blikbeker opgetop het, "stap ek mos so 'n entjie die bos in om water af te slaan. Toe ek mooi op dreef is, hoor ek mos takke kraak hier agter my. My eerste gadagte is leeu, en ek skrik my melk weg."

"Jou water, bedoel jy!" sê Hansman.

"Dit ook, maar toe ek omdraai, sien ek 'n wit gedaante op my afgestap kom, " gaan vriend Hay verleë voort, "en ek begin retireer na die bakkie toe. Maar hoe vinniger ek stap, hoe vinniger kom die ding nader. Ek voel later sy warm asem hier in my nek blaas, toe besluit ek om liewer om te draai en my vuiste te gebruik."

"Is dit toe 'n spook?" vra Jongeling toe vriend Hay 'n sluk uit die blikbeker vat.

"Nee," sê vriend Hay, "daai bleddie hans donkie van Solomon wat agter die groente agter op die bakkie aan was!"

"Ja, spoke en geeste kan die lewe vir 'n mens ongemaklik maak," sê Dok Sarel toe die gelag bedaar, terwyl hy teug aan sy whisky, "soos wat ek verlede week op Duiwelskloof moes uitvind."

"Dok, moenie vir ons kom vertel jy glo aan spoke en geeste nie!" sê Jongeling, terwyl hy versigtigheidshalwe 'n bietjie nader aan die vuur skuif. Hansman gooi nog 'n stomp op.

"Die moeilikheid was Oom Nic Schoeman van Rus-'n-bietjie ouetehuis wat so 'n beheptheid met geeste het. Elke aand voor hy gaan slaap, moet hy hulle eers uit sy kamer uit verdryf. Dit doen hy met 'n nat handdoek wat hy verwoed rondswaai, amper soos wat ons vlermuise in die huis verjaag het toe ons kinders was. Dan skree hy ook allerhande obskure goed in die proses.

"Die hele storie het mettertyd op Oom Tokkkie Greeff wat direk onder hom bly se senuwees begin werk. Ons vermoed Oom Tokkie was bevrees dat die geeste deur die ventilasie gate in die houtplafon sou ontsnap in sy kamer in, want hy het mooi 18 stukkies karton gesny, en sy kinders gevra om vir hom 'n boksie duimspykers te bring.

"Toe Oom Nic nou verlede week een aand weer begin geeste verdryf, toe prop Oom Tokkie die duimspykers in sy mond, klim op 'n stoel, en begin die ventilasie gate toemaak. Met die voorlaaste gat, hoor die nagsuster net Oom Tokkie maak 'n onaardse geluid, gevolg deur 'n slag soos hy van die stoel afval. Dis toe dat hulle my laat roep het.

"Het hy seergekry, Dok?" vra Hansman besorgd.

"Erger, toe ek daar opdaag, was Oom Tokkie ongelukkig nie meer met ons nie."

"Dink jy dit was sy hart, Dok, of het die geeste hom gekry toe hulle almal gelyk deur daai ventilasie gat peul?" vra Jongeling verbouereerd-sarkasties.

"Nee, hy't verstik aan een van daai duimspykers!"

(Gebaseer op werklike gebeure.)

[ENGLISH SUMMARY:Doc Sarel tells the guys how he experienced the dangers of ghosts and spirits recently. Oom Nic Schoeman of the local old age home is possessed by an unholy fear of bad spirits, so every evening before he goes to bed, he expells them from his room. He does this by swiping viciously in the air with a wet towel, screaming obscenities all the time.

With time this got to work on the nerves of Oom Tokkie Greeff, who lived directly below him. Oom Tokkie probably feared that these spirits would escape through the ventilation holes in the ceiling into his room, so he cut 18 pieces of carton, and asked his children for a box of drawing-pins. When Oom Nic started his ritual the next evening, Oom Tokkie put the drawing-pins in his mouth, grabbed the pieces of carton, got unto a chair and started sealing off the ventilation holes. With the second last hole, the night matron heard a horrible sound coming from Oom Tokkie's room, and found him lying on the floor.

When Doc Sarel arrived, he found that Oom Tokkie was dead already - having suffocated from one of the drawing-pins unfortunately!]

(Based on a true incident.)





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!