kremetart1.jpg



PASSIESPEL op VANRHYNSDORP!


No.62 (31/03/2002)

"Waar's vriend John dan?" vra vriend Hay toe hy laataand by ons aansluit by die Hardekoolvuur langs die Olifants.

"Oberammergau toe vir die Passiespele," sê ek. "Hy't mos glo die een of ander kompetisie gewen."

"Magtag, maar die man skiet uit, né!" sê vriend Hay. "As hy terugkom, sal hy ons seker nie meer wil ken nie."

"Ek weet nie vir wat julle so 'n bohaai maak oor iemand wat Caledon en daai plekke toe is nie," sê Jongeling Dunn. Vir 'n oomblik is ons stomgeslaan, maar Dok Sarel besef onmiddellik Jongeling verwar Oberammergau met die Overbergstreek in die Kaap.

"Jongeling, Oberammergau is 'n plek in Duitsland wat in 1633 gespaar gebly het van die pes epidemie, nadat hulle 'n gelofte afgelê het," verduidelik Dok geduldig, "en sedertdien herdenk hulle dit elke tien jaar met 'n opvoering oor Christus se dood, of dan nou passiespele. Dis waar vriend John heen is."

"O, nou hoekom sê julle nie maar net so nie," sê Jongeling beteuterd.

"Ek het eenkeer gelees Oudtshoorn hou ook elke jaar 'n passiespele," sê Ouboet Dunn.

"Nee, man, moenie ons naam nog verder gat maak nie, jy dink aan die Klein Karroo Kunstefees!" sê Jongeling.

"Ouboet is reg, Jongeling," sê Hansman, "voor die kunstefees begin het, hét hulle elke jaar so 'n opvoering in die Kango grotte gehou. My ma-hulle was ook een jaar daar."

"Dis reg," sê Ouboet, "toe verval dit met die koms van die kunstefees, maar as ek reg onthou, was daar ook 'n storie dat die grotte baie beskadig is met die opvoerings, en dit kon bygedra het tot die ondergang daarvan."

"Jare terug op Vanrhynsdorp het ons ook 'n passiespel gehad," sê Dok, terwyl hy teug aan sy whisky, "toe die bruin gemeenskap op inisiatief van die sendingpredikant vir 'n week lank opvoerings gehou het. Dit was nogal goed, en die mense het van diep in Namakwaland en Boesmanland gekom om te kom kyk. Selfs uit die Sandveld uit, wat snaaks was, maar julle sal nou nie weet hoe goddeloos dáái klomp visvreters is nie.

"In elk geval, die passiespel het later groot opslae gemaak, en amper veroorsaak dat die sendingpredikant en sy hele kerkraad onder sensuur geplaas is. Ek was nogal een van die eregaste die Saterdagaand van die moleste, saam met omtrent al die predikante van die omliggende gemeentes, en feitlik die hele Wes-Kaapse sinode.

"Fielies Pikeur, wat jullle behoort te onthou as die man wat destyds die bottel wyn gesteel het, was in die rol van Christus, en meestal aan 'n houtkruis vasgemaak op die verhoog, met spykers en bloed op sy hande en voete geteken. Toe Fielies op 'n stadium opkyk, sien hy drie figure agter by die saal inkom, elkeen gewapen met 'n knipmes. Fielies het hulle dadelik herken as die Windvogel broers met wie hy die vorige Saterdagaand 'n relletjie gehad het in die kantien.

"Aanvanklik het dit ons nie opgeval dat Fielies 'Maak my los' gesê het, in plaas van 'Ek het dors' nie. Waar ons onraad begin merk het, en besef het dat die drie manne wat met flitsende messe stadig in die paadjie af na die verhoog toe gestap het dalk nie Romeinse soldate was nie, was toe Christus aan die kruis nie sy lot maar net gelate aanvaar het, soos wat die Bybel ons leer nie. Want toe Fielies Pikeur se mede-akteurs nie enige ag slaan op sy herhaalde versoeke om hom los te maak nie, het hy homself probeer loswoel.

"Maar die ding wat die kerkleiers die meeste ontstel het, was dat toe Fielies Pikeur moes sê 'Vader, laat die beker by my verbygaan', hy benoud uitgeroep het:

'Ag, Jirre, maak my los, ek wil nie meer Liewe Jesus wees nie.'!"


[ENGLISH SUMMARY:Doc Sarel tells the guys about a debacle during a passion play at Vanrhynsdorp many years back. One Fielies Pikeur was in the role of Christ, and tied to a wooden cross on the stage most of the time. At some point three doubtfull characters entered at the back of the hall, armed with flickknifes. Fielies immediately recognised them as the Windvogel brothers with whom he had an altercation in the pub the previous Saturday. As they slowly made their way towards the stage, Fielies whispered at his fellow actors to untie him. As the three guys came closer, and he realised that no-one was going to help him, he shouted out:

'Jesus, untie me, I don't want to be the Lord anymore!']





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!