HY KUIK vôr MY!
No.63 (31/05/2002)
"Watse Engelspratery is dit met jou?!" vra Jongeling Dunn, waar ons om
die Hardekoolvuur by die Olifants sit. "Blue Tick! Almal van ons bly in die
Laeveld en kan sien dis 'n bloubosluis wat onder daai hond van jou se stert sit, en nie 'n rooipootjie nie. Blue Tick! Praat Afrikaans, man!"
"Jongeling, die hond is 'n Blue Tick," sê Theuns Botha, leeujagter van
die omgewing.
"Wel, vir my lyk hy soos 'n hond," sê Jongeling. "Lelik ja, maar hy lyk
beslis nie soos 'n bosluis nie. Wat maak hom in elk geval so spesiaal?"
"Jy verstaan nie," sê Theuns met die geduld wat 'n mens van 'n leeujagter sou verwag, "dis die soort hond - 'n Blue Tick. Wat hom spesiaal maak, is dat hy minder vrees vir 'n leeu het as enige ander hond."
"Minder as 'n Rifrug?" vra vriend John.
"Baie minder as 'n Rifrug," sê Theuns. Oorkant die rivier brul 'n leeu, en die Blue Tick roer net sy een oor, terwyl 'n rilling met sy lyf af hardloop. "Ek het met baie honde geëksperimenteer, en 'n hele paar verloor voor ek tot die gevolgtrekking gekom het dat die Blue Tick die geskikste is vir my werk."
"Ek glo dit nie dat daai hond 'n leeu kan vang nie," sê Jongeling, nou 'n bietjie meer bek-af as vroeër.
"Nee, Jongeling," sê Theuns, "hy vang nie die leeu nie, en ek werk met 'n span van so vyf-ses van hulle. Hulle keer die leeu vas, en dan skiet ek hom."
"So maklik soos dit?" vra Hansman, terwyl hy die blikbekers optop.
"Nie heeltemal nie," sê Theuns, "want jy moet eers die leeu kry, en jy moet seker wees dis die regte leeu voor jy hom skiet. Soms neuk dit maar."
"Ek sou sê enige leeu is die regte leeu," sê vriend Hay.
"Nie altyd nie," sê Theuns, "nou onlangs moes ek so 'n probleemleeu op 'n beesboer se plaas gaan skiet. Die honde het die spoor gou gekry, en die leeu in 'n plaat swarthake vasgekeer. Dis toe 'n wyfie, en toe ek wil skiet, sien ek daar loop melk by haar spene uit. 'n Ou kan nie sommer 'n wyfie met kleintjies skiet nie, toe moet ek haar los."
"Roep jy dan maar net die honde weg?" vra vriend John.
"Dis die geneuk," sê Theuns, "daai honde beweeg nie as jy hulle roep nie. Jy moet hulle een-een met die hand van die leeu af wegvat en in die hok agter op die bakkie gaan toemaak. Teen daai tyd is die leeu al reeds moerig, en hoe minder die honde word, hoe dapperder word hy. Daai dag het ek gedog die leeuwyfie gaan my byt. Het julle al gesien hoe geel is 'n leeu se oë as hy jou van hier naby af aangluur?"
"Ja, 'n leeu se kyk is nie 'n mooi gesig nie," sê Nick Smith. "Nou onlangs het ons die geval op Satara gehad waar 'n veldwagterkadet, Phineas Mtwetwa, een middag nie op die afgespreekte tyd aangemeld het na 'n patrollie nie. Ons roep hom toe op sy radio, en Phineas antwoord, maar al wat hy sê is, 'Hy kuik vôr my'!
"Ons weet toe Phineas het moeilikheid met iets, en ons spring in die bakkie om hom te gaan help. Gelukkig weet ons presies watter roete elke kadet patrolleer, en terwyl ons ry praat ons die heeltyd met Phineas. Amper soos die ouens wat die heeltyd met daai idiote praat wat van geboue wil afspring. Maar Phineas praat nie, hy sê net elke nou en dan, 'Hy kuik vôr my'. En dit het ook nie vir ons juis geklink of Phineas 'n begeerte gehad het om te spring nie.
"Toe ons so oor 'n bultjie ry, sien ons in die verte vir Phineas in 'n wankelmoedige boompie sit, net buite bereik van 'n helse groot leeumannetjie. Deur die vêrkyker kan ons sien Phineas se geweer lê onder die boom. En hy sê steeds 'Hy kuik vôr my', as daar met hom gepraat word.
"Terwyl ons nader ry, probeer die onderhandelaar 'n nuwe strategie. Hy vra, 'Hoe lyk hy, Phineas?'.
'Hy luik f*kken hônger,' sê Phineas!"
[ENGLISH SUMMARY:Nick Smith tells the story of one Phineas Mthetwa, a game scout who did not report back from patrol at the scheduled time one afternoon. They contacted him on his portable radio, but the only reply they received from Phineas was, "He's looking at me."
Knowing Phineas' patrol route they decided to go and look for him, all the time talking to him on the radio and getting the same reply, "He's looking at me." From the top of a low hill they could spot Phineas in a smallish tree with their binoculars. He's rifle was lying on the ground and a big male lion has positioned himself just below Phineas' dangling feet. They decided to take a new approach and enquired, "What does he look like?"
"He looks f*cking hungry!" Phineas replied.]