kremetart1.jpg



BEGRAFNIS PASSIE!


No.64 (31/07/2002)

"En hoe gaan dit met die Noordelike Provinsie se Onderwyspersoonlikheid van die Jaar?" vra vriend Hay toe hy laataand by ons aansluit langs die Hardekoolvuur by die Olifants.

"En tweede algeheel landswyd," voeg Hansman by.

"Nee, dit gaan goed," sê vriend John en lag verleë oor dié erkenning wat hy onlangs gekry het vir sy harde werk.

"Vra hom langs wie hy aan tafel gesit het," sê ek.

"Wie?" wil vriend Hay nuuskierig weet.

"President Mbeki," sê vriend John.

"Magtag, dit was seker vir jou die hoogtepunt!" sê vriend Hay.

"Nee, die hoogtepunt was toe ek Amy Kleynhans in die portaal ontmoet het," sê vriend John.

"Die voormalige mej Suid-Afrika!" sê Hansman.

"Ja-nee, mooi was nog nooit lelik nie!" sê vriend Hay.

"En lekker was nog nooit sl.." sê Jongeling Dunn, maar word onderbreek deur sy Ouboet met:

"Sjarrap, Jongeling!"

"Ja," sê Dok Sarel, terwyl hy teug aan sy whisky, "van mooi wat nie lelik is nie en lekker wat nie sleg is nie, het ek eenkeer op Vanrhynsdorp uitgevind.

"Die middag lê Meraai de Koker mos voor my sodat ek haar kop kan toewerk. So tussen die werkery deur vis ek nou maar uit oor hoe sy aan die snye op die kop kom. Nee, het sy te vertel, dit het op Gieljam Ruiters se begrafnis gebeur.

"Gieljam was 'n getroude man, met kinders, en dit blyk toe dat Meraai sy skelmpie was. 'Lover,' was die woord wat sy gebruik het. Toe Gieljam haar een aand in 'n onsubtiele omhelsing beet het, 'val sy hart hom aan', soos sy dit gestel het - 'op slag dood'. 'Sonder slag of stoot is hy weg', het sy bewoë en betekensvol bygevoeg!

"Dit is sekerlik verstaanbaar dat die omstandighede om Gieljam Ruiters se dood vir sy familie 'n groot skok was. Veral die kompromitterende toestand waarin hy aangetref is. Wat hulle egter woedend gemaak het, was toe Meraai drie dae later ook by die begrafnis opdaag. Nie soseer haar teenwoordigheid nie, maar die feit dat sy 'n korterige wit rokkie in 'n see van swart rouklere aangehad het.

"Meraai was wys genoeg om op die agtergrond te bly, maar toe die kis laat sak is, het sy snikkend nader gestaan om te aanskou hoe haar geliefde vir oulaas die dieptes invaar. Dit was vir die familie een te veel, en het 'n reeds gespanne situasie tot 'n punt gedryf. Allerhande beskuldigings is in haar rigting geslinger. Veral haar gebrek aan respek vir die dood, deur met 'n skrapse wit rokkie daar op te daag, was hoog op die agenda.

"Op die punt het Meraai die wit rokkie so effens opgelig om hulle 'n kykie na haar skrapse swart onderkleertjies te gee, en gesê:

'Ek rou waar dit saak maak.'!"


[ENGLISH SUMMARY:Dok Sarel tells the guys about the assault on Meraai de Koker on the funeral of her lover, Gieljam Ruiters. Gieljam had died instantly from a heart attack at Meraai's home whilst in a passionate embrace with her. Obviously Gieljam's wife and family were furious.

Even more so when Meraai turned up at the funeral three days later - not so much due to her presence, but because of the short white dress she was wearing. Meraai, however, had the presence of mind to stay in the background, but only up to the point where the coffin was lowered into the grave. She rushed forward to see her lover off on his last journey.

This incensed the crowd, and all sorts of accusations started flying, the most important being her disrespect in wearing a white dress, while everyone else was dressed in black. At this point Meraai stepped back, and lifted the white dress ever so subtly, saying: "I mourn where it matters", and revealed her black undies!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!