PAASNAWEEK op SATARA
No 7 (1/8/1998)
"Hoe lyk dit met 'n sampioen, Nick?" vra ek waar ons langs die
Hardekoolvuur by die Olifants sit.
"Jy weet mos ek eet nie daai bleddie goed nie nie," sê Nick Smith effens
verleë. Ek lag uit my maag uit.
"Van waar ken jy vir Nick?" vra vriend John.
"Dis 'n lang storie," sê ek, terwyl Nick hier langs my grinnik. "Sien, op
Barberton stop hoofspietkop Bobbie van Wesel my eendag, en skryf vir my 'n
kaartjie oor ek nie 'n veiligheidsgordel aan het nie. 'Jy's wragtag so 'n
groot vark soos die mense sê,' sê ek toe ek die kaartjie in die hand het.
'Dis crimen injuria,' sê hy, 'maar die gevoel is wederkerig. Kom kuier een
aand by my, dan sorteer ons dit uit.' "
"Nou kyk, dit kan nogal handig te pas kom om die hoofspietkop te ken, toe
gaan kuier ek. Ou Bobbie was 'n snaakse ou - geskei, mal oor vroumense, maar
'n intense liefde vir die natuur. Boonop het hy voor uhuru Afrika deurkruis."
"Wat sê julle van hoere?" vra Jongeling Dunn, maar ek het nie die
moed om te verduidelik nie.
"Toe is ek en Bobbie op dieselfde golflengte, en ons kuier baie en gesels
oor die natuur en Afrika. Op 'n dag kom hy by my en sê ons moet Paasnaweek
Satara toe gaan. Ek sê hy's mal, ons sal nie plek kry nie. Nee, hy ken vir
Nick op Satara, en het alles klaar gereël. So kom ons die Vrydag by Nick aan
- ek, vroulief, Bobbie, sy vriendin, en 'n vriendin van vroulief en dié se
vriend. Nick weet van g'n sout of water nie! Hy sit met 'n huis vol mense,
en julle weet hoe lyk die Wildtuin op 'n langnaweek. Goeie ou wat Nick is,
maak hy 'n plan, en ons het blyplek, ongenooid."
"Ek het vooraf gehoor ou Nick hou van 'n goeie brandewyn, en vir hom 'n
bottel Napoleon saamgebring. Toe ek dit vir hom gee, sê hy hy drink nie
alleen nie, hy sal ons die volgende oggend na 'n baie mooi plek neem, dan
gaan proe ons hom daar."
"Die volgende oggend ry ons met Bobbie se Land Rover af na Nwanetsi toe.
Daar by die samevloeiing van die Nwanetsi en Sweni is die pragtigste
piekniekplek vir Parkeraad personeel. Nick se vrou, Sarie, is nie by nie. Sy
werk in die winkel, en sal 1 uur by die huis wees, dan moet ons terug wees."
"Ons begin kuier met daai bottel, en toe Napoleon en sy perd so
halflyf deur die branders stoei soos Wolraad Woltemade van ouds, toe sien
Nick dis kwart voor een, toe moet ons ore in die nek terug Satara toe, ter
wille van Sarie."
"'n Klein entjie van Nick se huis af sien ek 'n leeuwyfie onder 'n
maroelaboom langs 'n spruitjie lê. Toe moet ons eers gaan kyk, ons is in
elk geval laat. Toe het 4 leeus - 3 wyfies en 'n maanhaar - so pas 'n koedoe
platgetrek. Ons hou by hulle stil net toe hulle begin vreet. Dis iets om te
aanskou, en te hoor, want hulle grom en spoeg en vreet, alles tegelyk. 'Ons
moet vir Sarie gaan haal, sy is mal oor leeus,' sê Nick toe na 'n rukkie."
"Toe Nick met Sarie by die huis uitkom, toe sien ek sy hink op twee
gedagtes - of sy Nick moet vermoor vóór of ná ons die leeus gaan kyk het. Ons
hou weer téén die leeus stil, aan Sarie se kant. Nou kyk, Sarie hou van leeus,
maar nie só naby aan haar nie. En ook nie as haar halfbesope man elke twee
tellings vir haar vra of dit dan nou nie mooi is nie!"
"Toe gebeur een van die interessantste dinge wat ek nog aanskou het. Een
wyfie is nie toegelaat om saam met die ander 3 te vreet nie, en het eenkant
onder 'n bos gelê met 2 welpies. Toe staan die mannetjie op, stap na haar toe,
lek aan haar, en toe bring hy haar om saam verder te kom vreet. Vir 'n ruk
was ons almal stil om dié stukkie intrige te waardeer."
"Toe sê Nick, 'Wys jou net wie's baas!'."
"Toe sien ek Sarie se hare word nog rooier as gewoonlik, en sy vra,
'Dink julle daai leeuwyfie weet hoe om giftige sampioene gaar te maak?' "
[ENGLISH SUMMARY: The author explains to his friend John how he
came to know Nick Smith, who worked for the Parks Board in the Kruger National
Park. He was invited to Nick's home at Satara by Bobbie van Wesel, but Nick
had no idea they were coming. He had visitors for the Easter weekend, and the
Park was full, but he made a plan to accommodate them.
The next day Nick took them to a very scenic private picnic spot in the
park. His wife, Sarie, didn't accompany them, since she was working in the
shop, but would be home by 1 pm. They were supposed to be back by then.
They started drinking brandy, and left very late. Close to Nick's home,
they came upon a pride of lion feeding on a kudu. After a while Nick
suggested that they should go and fetch Sarie, since she is very fond of lion.
It was clear that she was very unhappy with Nick's late arrival and his state
of sobriety.
At the carcass they saw how the male lion went to fetch a female, which was
initially not allowed to feed with the rest, to join the feast. At that point
Nick remarked that the male had shown who really is the boss. To which Sarie,
a redhead, wondered whether the lioness knew how to cook poisonous mushrooms!
Nick doesn't eat mushrooms since that day!]