kremetart1.jpg



DANKIE, VADER!


No.8 (7/8/1998)

"Dis hoekom ek van 'n hardekoolvuur hou," sê Jongeling, "ten spyte van al die wind en reën, het daar genoeg kole lewendig gebly om hom weer aan die gang te kry!"

Ons sit soos 'n klomp nat hoenders langs die vuur, nou dat die storm verby is. Oral rondom ons kwaak paddas, en die vars reuk van reën deurdrenkte bosveld hang in die lug. Vroegmiddag het die cumulus wolke bo die oorkantse randte begin opstapel, en later het 'n ligte windjie opgesteek en die dwarrelwind het stofstrepe deur Sollie se beeskraal kom hardloop. Teen vieruur was dit donker langs die Olifants, behalwe vir die blitse wat al nader gekom het, en die rukwinde het al hoe sterker begin word. Kort voor lank moes ons die vuur los, en die veiligheid van die grasafdak op die uitkyk gaan opsoek.

Toe slaan hy met mening toe, en gordyne water begin om ons val. 'n Stormsterkte wind het stukke gras uit die dak begin pluk, en die water onder die dak begin inswiep. Die wit kneukels van die hande om die blikbekers was 'n aanduiding dat 'n paar van ons gedink het die oordeelsdag het aangebreek. 'n Weerligstraal het 'n groot knoppiesdoring meters van ons af platgeslaan. Kort daarna was alles oor, en toe is die bekers met mening vol geskink.

"My oupa Machiel het in die Vrystaat geboer, en só 'n storm het hom amper uitgeroei," sê Hansman toe ons almal weer rustig om die vuur sit. "Oupa was 'n Godvresende man, en iemand wat bekend was om sy besondere dankbaarheid. Hy het elke aand getrou huisgodsdiens gehou saam met sy kinders, en as hy hulle voor gegaan het in gebed, het hy altyd iets gehad om God voor te dank."

"Op die betrokke dag het die storm so oor die vlaktes aangerol gekom. Eers net 'n orkaansterkte wind, wat die skuur en buitegeboue platgemaak het. Toe het die weerlig die mielielande aan die brand gesteek, wat feitlik totaal afgebrand het. Toe kom die reën. Die Vrystaat kan nie swaar reën vat soos ons wêreld nie, en binne 'n halfuur was sy plaas onder water, behalwe die opstal wat op 'n effense heuweltjie gestaan het. Die arbeider huisies het inmekaargesak, maar gelukkig is niemand dood nie. Oupa se sement reservoir is drie dae later 10 km stroomaf in die Renosterrivier gekry."

"Toe Oupa daai aand die Familiebybel oopslaan, wonder almal wat hy gaan bid. Met 'n bewoë uitdrukking op sy gesig het hy uit Job begin voorlees. Toe hy klaar gelees het, kniel hy langs sy stoel, en bid:

'Dankie Vader dat alle dae nie soos vandag is nie!' "

[ENGLISH SUMMARY: After a particularly severe thunderstorm had calmed down, Hansman tells the guys about an even worst one that hit his grandfather's farm many years back. His grandfather was a Godfearing man, also known for his gratitude. Every evening he read from the Bible for his family, and always thanked the Lord for something or another.

On the particular day the whole farm was destroyed, with the exception of the family home. That evening his grandfather read from the book of Job, and in his prayer thanked the Lord for the fact that not all days were like the one that they've experienced!]





TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!