kremetart1.jpg



DIE ROOI CESSNA


No.9 (14/8/1998)

Die ander aand sit ek en vriend John langs die hardekoolvuur en suig aan 'n Pinotage. Vriend John is 'n fantastiese mens wat sy lewe wy aan die onderrig van gestremde kinders. Hy's 'n Pinotage man, so die rekening is op hom. Hier onder lawaai die seekoeie in die Olifants.

Na 'n ruk gaan haal hy sy kitaar. "Kom ons sing 'Die nooientjie van Zeerust'," sê hy. Dis 'n liedjie wat ek hom geleer het. Ons sing met oorgawe - amper net so vals soos die aand toe ons die liedjie vir Philip Moolman wou leer. Om sy repertoire aan te vul, sien.

Na 'n ruk is die seekoeie stil. Ons ook. Vriend John is ook 'n sterre man. Toe die leeus begin brul, begin ons oor die ruimte, die sterre en die heelal praat. Later praat hy my kop deurmekaar met wesens uit die buitenste ruimte wat esdraaie gooi om planete met hul tuie.

"Jy's mos 'n ou wat baie droom," sê hy uit die bloute.

"Hoe bedoel jy nou?"

"As jy slaap. Jou vrou sê so. Vertel my wat droom jy."

Nou kyk, ons droom almal. Nagmerries, vulgêre drome, die lot. Ek onthou myne miskien net beter as ander ouens. Wat moet ek hom nou vertel?"

"Vertel die een van julle in die vliegtuig," lees hy my gedagtes.

"OK, maar jy moet onthou dis 'n ware droom. Dit speel af op Barrydale, waar ek grootgeword het. Barrydale lê aan die agterkant van die Langeberg, en word omring deur hoë heuwels. As kind het die dominee altyd op die preekstoel geklim, sy arms in die lug gesteek, en gesê 'Rondom Jerusalem is daar berge, so is die Here...'. Dan het ek altyd gedink Jerusalem lyk soos Barrydale."

"In elk geval, ek droom ons is op Barrydale, en ek en vroulief vlieg met so 'n rooi Cessna dorp uit, Ladismith se kant toe. By Doringriviersvlei se afdraai draai ons om. Nou wil vroulief self die vliegtuig vlieg. Om die droom verder te verstaan, moet jy weet hoe sy kar bestuur. Sy werk daai Golf teen hoë rewolusies deur sy ratte tot in 5de, en weer terug tot by 1ste as sy moet stop. Ons ruil sitplekke in die ry, en sy vlieg daai vliegtuig presies soos wat sy kar bestuur. Ons kom Barrydale met 'n spoed binne."

"By oom Isak Snyman se garage begin daai vliegtuig iets allerverskrikliks skud en vibreer. Ons 'crash land' voor oorlede oom Ren Moelich se huis. Hy was 'n befaamde garageman, en is dood toe ek nog op skool was. Toe ons uitklim, kom oom Ren by die huis uitgestap. Hy maak die Cessna se enjinkap oop en kyk rond."

" 'Die ketting het afgeval!' sê oom Ren."


[ENGLISH SUMMARY: The author tells his friend John about a dream that he had. In the dream him and his wife were flying a red Cessna, with the author as pilot. At one point his wife requested to pilot the plane. She did so in much the same way as she normally drives her car - working through the different gears at very high revolutions. On entering the author's childhood town, the plane started shaking uncontrollably, and they crash landed in the main street. At that point Mr Ren Moelich, a garageman who died many years earlier, walked up to them, opened the bonnet of the aircraft, and declared that the chain has dropped!]




TEKEN ASB. MY BESOEKERSBOEK!



TERUG NA DIE HARDEKOOLVUUR!