HENRI se SKAAPNEK POTJIE
Hierdie is 'n resep vir gesellig kuier wanneer almal in 'n gemoedelike
stemming is, soos wanner die BOKKE teen 'n mindere span soos WALLIS speel.
BESTANDDELE:
Skaapnektjops, volgens behoefte.
2 Groot Uie, in skywe gesny.
2 Pakke Knopie Sampioene.
Groenboontjies, in stukke gesny
('volstruiskos' volgens my ma).
Geelwortels, ditto.
4 Groot Artappels,
gehalveer.
'n Halwe hand Roosmaryn.
'n Goeie knyp Oreganum.
Growwe
Peper, varsgemaal.
Sout.
4 Lourierblare.
'n Halwe bottel Soja Sous.
2 Skeppe Botter.
6 Bottels Rooiwyn (minimum).
METODE:
Net voor die afskop steek jy die vuur aan. Dit moet goeie vuurmaakhout,
verkieslik Hardekool wees, maar afhangend van waar jy jou bevind, sal
kameeldoring, wingerdstompie of mieliestronke ook deug.
Maak 'n bottel rooiwyn oop, en geniet die rugby. Rustyd sit jy die pot
op die vuur, en stook hom nog 'n bietjie. Maak die 2de bottel oop (die 3de
as die Bokke goed voor is). Na die wedstryd skuif julle vuur toe, en maak
die volgende bottel oop. Bespreek die wedstryd.
As die bottel klaar is, skree jy vir vroulief om die volgende een, asook
die vleis, botter, 'n handvol uie en die roerlepel te bring. Sit bestanddele
in die pot, en roer vinnig. Druk nou jou hand in yswater, want jy het vergeet
om te sê sy moet die vatlappie saam bring. Drink nou die volgende bottel,
terwyl die vleis kookbraai in sy eie sous. Roer so nou en dan sodat hy nie
aanbrand nie.
As die bottel klaar is, gaan haal jy self die volgende een, en die res
van die bestanddele. Vra vir vroulief of sy 'n ou potbroodjie of 'n rysie
gaan maak. Ignoreer haar kyk. Pak nou die sampioene, wortels, boontjies en
uie in lae op die vleis. Strooi die speserye oor. Pak die artappels bo-op.
Gooi die sojasous en 'n halwe bottel wyn by. (Jy kan bokswyn ook gebruik,
maar oppas vir een wat jou vrou 'n jaar lank in 'n kas laat staan het - 'n
ou mors nie goeie asyn nie, vra my!). Gooi sout en peper, en plaas die
lourierblare op. Kuier rustig voort, maar luister vir daai pot - hy moet
met jou gesels. 'n Stil pot beteken hy is besig om te brand, of daar gaan
bokkerôl aan. MOENIE ROER NIE!
As die laaste bottel klaar is, behoort die pot gaar te wees, en jy ook.
Nou kan julle maar skep.
(As almal intussen aan die slaap geraak het, kan
jy hom laat oorstaan tot die volgende oggend - dan sal hy éérs lekker wees!)
TERUG NA DIE KULINÊRE BLAD!