GESTOKTE WILDEMAKOU
Ja, ek het gedink jy het vermoed ek het 'n spelfout gemaak, maar
nee, dit is nié 'gestoPte' wildemakou nie! Die geheim van hierdie
resep is om te onthou dat 'n wildemakou (Plectropterus gambensis)
nie soos jou ma se makoue heeldag op 'n dammetjie sit en wag om mielies
gevoer te word nie. Hy is wild en moet heeldag rondvlieg op soek na
kos, en om goed soos jakkalse en luiperds te ontduik. Gevolglik is hy
redelik taai.
BESTANDDELE:
1 Mediumgrootte Wildemakou.
Groente, na smaak.
1 Bottel Asyn.
Sout.
Speserye.
Vleisversagter ('tenderiser').
1 Lengte
Hardekooltak, 75cm x 3cm.
2 Lengtes Hardekooltak, 50cm x 3cm.
Bindtou.
METODE:
Kry 'n Wildemakou. Dis makliker gesê as gedaan, want hulle is vrek
wild, veral die mediumgroottes. En moeilik om geskiet te kry, want hulle
is taai, soos reeds gesê. As jy hom doodgeskiet kry, is daar waarskynlik
niks van hom oor nie. Die beste is om 'n strik te stel, en as jy hom
gevang het, sy kop met 'n byl af te kap. Oppas vir jou hand, want hy gaan
'n geveg opsit, soos hy met 'n luiperd maak.
Slag en ontveer hom. Sny hom oop van sy nek tot by sy lieste. Maak nou
'n dubbele houtkruis van die Hardekooltakke en tou, sper hom oop, en
kruisig hom.
Wat jy nou nodig het, is 'n outydse koelkamer - daai tipe wat jou ouma
gehad het wat onder 'n doringboom gehang het. Hy het 'n dubbele gaaswand,
met steenkool tussen die gaas, wat jy nat hou met water, om afkoeling te
bewerkstellig. Hang hom nou vir 'n week daarin om 'ryp' te word. Nee, hy
sal nie vrot nie, solank jy die steenkool nathou.
Na 'n week haal jy hom uit, en lê hom in in asynwater. Moenie dat hy
bo die water uitsteek nie, want dan sál hy vrot. Na 'n week haal jy hom
uit, en vryf hom goed in met die versagter, en hang hom vir nog 5dae in
die koelkamer.
Na 5 dae haal jy hom uit, en sit hom in 'n groot pot, kruis en al.
Daai potte wat jou ouma gebruik het om seep in te kook sal goed werk. Gooi
water, groente, en sout by. Enige groente, moenie dit te fênsie maak nie.
Nou stook jy 'n behoorlike vuur onder hom, verkieslik hardekool. Laat kook
hom vir 5 dae, maar hou die pot dop, hy moenie droog kook nie - min dinge
is so sleg soos droë wildemakou.
Na 5 dae skep jy die groentetjies en sousie in 'n diep bord. Haal die
makou uit as hy genoegsaam afgekoel het, en maak hom los. Gooi nou die
makou weg, en eet die stok - hy behoort heerlik sag te wees!
TERUG NA DIE KULINÊRE BLAD!