HENRI SE BRAAIBROODJIES
Hiedie gereg is verraad teenoor my vriende noord van die Oranje
rivier. Ek sluit hom in ter wille vriende en familie wat so onbevoorreg
is om in die suide van die land te bly. Dis nou die ouens wat glo die
wêreld stop by die Hexrivierberge, soos swaer Aubrey van Somerset-Wes.
Dit dien ook as herinnering aan my kinderjare in die Klein Karoo.
BESTANDDELE:
Witbrood, gesny.
Botter.
Tamatie, in skywe gesny.
Uie, ditto.
Sout.
Peper.
Garing.
METODE:
Maak toebroodjies met tamatie, uie, sout en peper op. Bind nou die
broodjie met die garing vas, soos wat die meisie by die poskantoor die
kaartjie aan 'n pakkie vasmaak, net sonder die rooi goed wat sy oor 'n
kers smelt. Om redes wat aanstons duidelik sal wees, moet die garing
nie van sintetiese stof soos nylon wees nie.
Die broodjies moet nou op 'n rooster oor kole gebraai word, en dis
waar jou probleme begin. Jy moet besluit of jy eers die broodjies, of
eers die vleis gaan braai. As jy op die brood besluit, is die kole te
warm, en is hy gewoonlik verbrand voor jy hom kan draai. Dis nie die
einde van die wêreld nie, 'n ou krap maar die houtskool met 'n messie
af. Bid net dat die toutjies nie afbrand nie, anders brand die
onderste sny brood op die rooster vas. As hulle nou albei kante mooi
gerooster is, en nie te erg verbrand het nie, kan jy die vleis braai.
As jy die vleis eerste braai, sal die kole koeler wees, en dit
werk beter vir die broodjie. Die probleem nou is dat jy van te veel
wyn 'n bietjie traag kan wees om hulle te draai, dan brand hulle in
elk geval ook. As jy om een of ander onverklaarbare rede nie te veel
wyn gedrink het nie, sal hulle baie mooi uitkom. Nou sit jy met die
probleem dat die vleis intussen koud en taai geword het.
Hoe dit ook al sy, die broodjies is baie lekker saam met
braaivleis, en ek het by enkele geleenthede mense van die noordelike
provinsies gesien wat daaraan peusel, maar moenie sê ek het so gesê
nie!
TERUG NA DIE KULINÊRE BLAD!