Die Reëls


RUGBY is beslis 'n sport vir intelligente mense. Die rede is voor die hand liggend. Daar is 164 reëls (vergelyk sokker se 2), wat elk gemiddeld 10 sub-reëls het, en elkeen op sy beurt weer 5 sub-sub-reëls. Nie eens die mees intelligente rugbyspeler kan die som maak om die totale aantal sub-sub-reëls te bereken nie. 'n Rugbyvriend van my het een Sondag agtermiddag gou die Encyclopaedia Brittanica deurgelees. Hy verseker my dat 75% daarvan in beslag geneem word deur RUGBY se reëls.

Dit is uiteraard goed om RUGBY se reëls op die punte van jou vingers te ken. In die onwaarskynlike situasie dat jou span ooit verloor (sien DOELWITTE), kan jy altyd daarop wys dat die skeidsregter reël 18.a.i.sub-paragraaf2.b totaal verkeerd toegepas het. Niemand sal dit betwis nie, uit vrees dat hy onkunde oor die reëls mag openbaar.

Die enigste ding wat RUGBY effens kompliseer, is die feit dat sommige reëls onderhewig is aan die interpretasie van die skeidsregter, soos jy seker uit die vorige paragraaf kon aflei. Dit is amper so baie gevra as om van 'n spietkop te verwag om die spoed van witlig te interpreteer.

Die reëls is natuurlik ook beskikbaar in braille, vir die onthalwe van skeidsregters. As jy enige aspirasies het om 'n skeidsregter te word (iets wat ek ten sterkste afkeur), stel ek voor jy kontak die Skool vir Gesiggestremdes op Worcester. 'n Goeie alternatief is 'n psigiater.

* * *

Terug na die RUGBYBLAD!