Die Reëls
RUGBY is beslis 'n sport vir intelligente mense. Die rede is voor die
hand liggend. Daar is 164 reëls (vergelyk sokker se 2), wat elk gemiddeld
10 sub-reëls het, en elkeen op sy beurt weer 5 sub-sub-reëls. Nie eens die
mees intelligente rugbyspeler kan die som maak om die totale aantal
sub-sub-reëls te bereken nie. 'n Rugbyvriend van my het een Sondag agtermiddag
gou die Encyclopaedia Brittanica deurgelees. Hy verseker my dat 75% daarvan in
beslag geneem word deur RUGBY se reëls.
Dit is uiteraard goed om RUGBY se reëls op die punte van jou vingers te
ken. In die onwaarskynlike situasie dat jou span ooit verloor (sien DOELWITTE),
kan jy altyd daarop wys dat die skeidsregter reël 18.a.i.sub-paragraaf2.b
totaal verkeerd toegepas het. Niemand sal dit betwis nie, uit vrees dat hy
onkunde oor die reëls mag openbaar.
Die enigste ding wat RUGBY effens kompliseer, is die feit dat sommige
reëls onderhewig is aan die interpretasie van die skeidsregter, soos jy seker
uit die vorige paragraaf kon aflei. Dit is amper so baie gevra as om van 'n
spietkop te verwag om die spoed van witlig te interpreteer.
Die reëls is natuurlik ook beskikbaar in braille, vir die onthalwe van
skeidsregters. As jy enige aspirasies het om 'n skeidsregter te word (iets
wat ek ten sterkste afkeur), stel ek voor jy kontak die Skool vir
Gesiggestremdes op Worcester. 'n Goeie alternatief is 'n psigiater.