Doelwitte
Wen is nie alles in RUGBY nie dit is die enigste doelwit. Om
dit reg te kry moet jy meer
punte as jou opponente aanteken. Die feit dat een span meer punte aanteken
word egter nie altyd aanvaar as 'n bewys dat hy gewen het nie. Nooit deur
die opposisie nie, in elk geval. In so 'n geval is die volgende twee frases
baie handig:
i) 'Looks at the scoreboard.'
ii)'Kyk môre wat staan in die koerant.' (Maar as iemand dit vir jóu sê,
is 'n goeie antwoord, 'Moenie alles glo wat jy in koerante lees nie'!)
Punte kan op 'n paar maniere aangeteken word. Die vernaamste is om die
bal oor jou opponente se doellyn te dra, en 'n 'drie' te druk. As jy wil
verseker dat die drie toegeken word, behoort jy die bal te begrawe. 'n 'Drie'
tel 5 punte. As jy daarna die 'drie' 'vervyf' deur die bal oor die dwarslat
van die pale te skop, kry jy nog 2 punte, en het jy 7. Ja, ek weet dit maak
nie sin nie, maar soos ek elders aangedui het, dit is 'n spel vir intelligente
mense.
'n Ander manier om punte aan te teken, is om 'n 'strafskop' oor die pale
te skop. Dit tel 3 punte. Dis onwaarskynlik dat punte ooit op dié manier teen
jou aangeteken sal word, want jou span begaan nooit strafbare oortredings nie.
Maar moenie te seker wees daarvan nie (sien 'Skeidsregter' onder 'Beamptes').
Die mees gehate vorm van punte aanteken, afhangend van aan watter
kant jy is, is die 'skepskop', waar jy die bal laat val, en met die springslag
oor die pale skop. Dit tel ook 3 punte As jy heldestatus wil verwerf, doen jy
dit in die doodsnikke van 'n wedstryd as jou span met 2 punte agter is, maar
verkieslik nie met 'n oop doellyn voor jou nie.
Daar is natuurlik sub-doelwitte in RUGBY. Van uit 'n speler oogpunt kan
dit nogal lekker wees om te kyk hoeveel van jou opponente kan jy in 80 minute
sodanig beseer dat hulle nie verder kan speel nie. Hulle sal baie respek vir
jou hê, en na die wedstryd vir jou baie bier koop. Onthou net jy moet dalk
iewers in die toekoms weer teen hulle speel.
Eer en Trots is natuurlik ook op die spel. Vooraf in die kleedkamer sal
jou afrigter iets sê soos, 'Onthou jy speel nie vir jouself nie, jy speel nie
net vir jou span nie, jy speel nie net vir jou skool/dorp/provinsie nie, jy
speel vir VOLK en VADERLAND!' Dan sal jy wonder vir wie speel die opponente.