Speelveld
Die speelveld kan enige iets van jou ma se sitkamer tot 'n
heilige tempel soos Loftus Versfeld of Nuweland wees. Dit sluit
teerstrate, snelweë en dorpspleine in. Die enigste vereiste is
dat die speelveld duidelik uitgemerk moet wees, en onthou dat
die buitelyne nié deel van die speelveld vorm nie. 'n Gebrek aan
enige van lg. 2, lei tot ernstige argumente. Selfs kennis daarvan
lei tot ernstige argumente.
Die speelveld moet verkieslik gelyk wees. Letterlik. Niks is
so moeilik as om voor 'n wedstryd te moet besluit of jy op- of
afdraand wil speel nie. Veral nie as jy ook nog moet besluit of jy
saam of teen die wind moet speel, of met die son in jou oë of agter
jou rug nie.
Verkieslik moet daar gras op die oppervlak wees, maar dit is nie
'n vereiste nie. Modder werk ook - vra maar ouens wat al op Nuweland
was. Diep sand kan lastig wees, veral as dit in jou oë kom. Klippe
moenie so groot wees dat jy daaroor struikel nie. Duwweltjies is
aanvaarbaar.
Dit is raadsaam om nie op 'n veld te speel met 'n krieketblad in
die middel nie. In so 'n geval sal jy vind dat die spel meestal in
die dekveld plaasvind, en alle laagvatte op 'n goeie lengte buite
die wegpen uitgevoer word. 'n Goeie verskoning om dan nie te speel nie, is
iets soos 'Ek het nou net onthou my suster trou vandag, en ek is die
strooijonker'.
NOTA: Soms sal jy hoor mense praat van die speelveld as die
'paddock', veral in Nieu-Seeland. Daaruit kan jy aflei dat die ouens
wat daar speel sterk ooreenkomste met skape toon. As 'n mens na die
modderige oppervlakte van hulle velde kyk, besef jy ook dat skape daar in
die reën aangehou word.