Spelers
Normaalweg bestaan 'n span uit 15 spelers, soms uit 14, en
dikwels uit 16. Hier volg 'n kort beskrywing van die verskillende
posisies:
STUTTE. No.'s 1&3. Hierdie ouens is min of meer so lank as
wat hulle breed is, sonder nekke. Geweldig sterk. Van hulle word
verwag om in die skrums te drúk, en voorheen was dit nie 'n vereiste
dat hulle ooit aan 'n rugbybal hoef te geraak het nie. Daar is verskeie
gevalle bekend van stutte wat internasionale loopbane voltooi het
sonder om ooit aan 'n rugbybal te raak. Deesdae moet hulle soos
losskakels kan hanteer en soos senters kan hardloop, wat tot gevolg het
dat hulle hopelose skrumdrukkers is.
HAKER. No. 2. Effens kleiner as 'n stut, maar 2 maal so
aggressief. Die ou wat die bal in die lynstaan ingooi, met 'n
blitsige voet om 'n bal in die skrum te haak. Deesdae geneig om so
groot soos 'n stut te wees (om op te maak vir lg. se gebreke).
Versteur gevolglik die balans in die skrum, en sukkel om 'n bal
reguit in te gooi. Gevolglik erg gefrustreerd en geneig om strafskoppe
af te staan. Hoef gelukkig nie meer 'n bal in die skrum te haak nie,
want dié word nou onder die slotte se voete ingegooi deur die
skrumskakel.
SLOTTE. No.'s 4&5. So breed soos stutte, maar 2 maal so
lank. Goedige reuse wat kon spring in lynstane en vriendelik was met
skrumskaels. Deesdae gebou soos
hoogspringers, met die verskil dat hulle glad nie kan spring nie. Dit
is nie meer nodig nie, want hulle word opgetel in die lynstane. Hulle
hooffunksie is om op die vleuel posisie rond te hang om drieë te druk.
FLANKE. No.'s 6&7, en AGTSTEMAN. No. 8(!). Staan
ook gesamentlik bekend as LOSVOORSPELERS, want hulle 'los' geen bal, of
speler met 'n bal uit nie. As jy dit kan verhelp moet jy hierdie ouens
vermy op 'n rugbyveld, want hulle het 'n neiging om jou te 'los' vir
dood.
SKRUMSKAKEL. No. 9. Die kleinste outjie op die veld - die
helfte van 'n stut se lengte, en omtrent 'n agtste van sy breedte, maar
2 maal so aggressief soos 'n haker. Praat baie, veral met skeidsregters.
Vroeër kon hulle 'n bal in 'n reguit lyn oor die dwarste van die veld
aangee, maar aangesien hulle deesdae geneig is om so groot soos
losvoorspelers te wees, sukkel hulle om 'n bal verder as 2 treë aan te
gee. Gevolglik skop hulle eerder, of hardloop in voorspelers vas, wat
noodsaak dat hulle nog groter moet wees.
LOSSKAKEL. No. 10. Die ballerinas van die rugbyveld, wat deur
die kleinste gapings kon glip, en die opposisie verward op een plek kon
laat stilstaan. Die generaal wat die gang van die wedstryd
bepaal het, en 'n bal die lengte van die veld kon skop. Met albei voete.
Deesdae lyk hulle soos outydse slotte, met die idee om bo-oor sy
opponent te hardloop, wat ongelukkig ook soos 'n outydse slot lyk.
SENTERS. No.'s 12&13. Twee variasies. Eerstens, die
spelskepper, wat met vernuftige hande en voetwerk die opposisie oorhoops
gelaat het, en die spelers buite hom weggestuur het om drieë te druk.
Die ander was 'n man met 'n verbysterende vaartversnelling, wat 'n
opponent aan die buitekant kon klop deur op volle vaart 'n 90 grade
rigting verandering te maak. Deesdae lyk beide soos outydse stutte, en
hul doel is om 'n losskrum in die middel van die veld af te dwing.
VLEUELS. No.'s 11&14. Soos die naam aandui, ouens wat kon
vlieg. Resiesperde. Hande was ietwat onbetroubaar, maar as hulle die bal
kon vashou, het hulle die opponente met brute vaart geklop. Deesdae
heelwat stadiger, maar baie veilig onder die hoë bal, sodat hulle die
heelagter kan uithelp. Die vermoeë om drieë te druk is heeltemal
oorbodig, aangesien die senters losskrums in die middelveld afdwing,
vanwaar die slotte gaan druk.
HEELAGTER. No. 15. Die man in die laaste vesting, soos die
naam aandui. Kalm, bedaard, veilig onder die hoë bal. Rotsvaste
verdediging. Deesdae 'n absolute risiko onder die hoë bal, met 'n
totale onvermoeë om te verdedig, maar die vleuels maak op daarvoor. Nou
geweldig vinnig, met die vermoeëns van 'n outydse losskakel, senter en
vleuel in een persoon. Die opwindendste speler van die moderne era op
die aanval.