Beamptes


Die ouens wat veronderstel is om die spel te reguleer. Dit is interessant om daarop te let dat in die beginjare van die spel hulle nie bestaan het nie. Die 2 kapteins het toe die reëls toegepas, en alle verslae dui daarop dat die spel toe meer georden was as vandag. As jy die onderstaande bestudeer, sal jy met my saamstem, en 'n veldtog ondersteun om van hierdie ongewenste karakters ontslae te raak.

SKEIDSREGTER: Dit is die ou op die veld met 'n trui wat anders lyk as die ander 30. Moenie dat dit jou mislei nie - baie dikwels speel hy wel vir een van die 2 spanne. Hy is die belangrikste ou op die veld, die spel sentreer om hom, en hy maak seker dat almal dit weet. Vir dié doel dra hy 'n fluitjie aan 'n toutjie om sy nek of pols. Hy is besonder musikaal, en kan 'n verskeidenheid deuntjies op eentonige reëlmaat op daardie fluitjie speel. Hy is ook lief vir kaartspeel, maar anders as ander mense speel hy net met twee, 'n rooie en 'n gele. Niemand anders verstaan die reëls van sy kaartspel nie. In 'n onlangse wedstryd het Balie Swart, Springbok Wêreldbeker speler, 'n rooikaart aan die skeidsregter gewys. Vir hierdie poging is Balie van die veld gestuur, wat my punt oor hierdie kaartspel bewys - as daar enige logika in was, moes die skeidsregter geloop het. Balie het immers sy kaart eerste gewys. Om alles te kroon, is daar beslag gelê op Balie se kaart. Ek sou 'n klag van diefstal aanhangig gemaak het as ek Balie was.

Nodeloos om te sê, hierdie is die mees gehate persoon op 'n rugbyveld. Hulle verstaan glad nie die sport nie, en het nog nooit 'n reëlboek onder oë gehad nie, waarskynlik vanweë die feit dat hulle gesiggestrem (lees 'blind') is, en nie die nodige intellek het om te besef die reëls is ook in braille beskikbaar nie. Die meeste kenners is dit eens dat hulle die ouens is wat RUGBY 'n slegte naam gee.

In die lig hiervan is die korrekte aanspreekvorm baie belangrik. Die oningewyde is geneig om hom aan te spreek as 'Mnr. Die Skeidsregter'. Hy sal baie in sy skik wees daarmee, maar onmiddellik weet jy is nuut, en jou genadeloos straf. Die meer aanvaarbare vorm is 'Mr. Ref', soos in 'Maak oop jou bleddie oë, Mr. Ref!'. Net voor jy 'n rooi kaart ontvang, sê 'n mens gewoonlik 'Jou ma se ...., Ref!'

Dit is ongelukkig so dat die skeidsregter, en nie die spelers nie, bepaal wie wen of verloor. As jy dus steeds probleme het om te bepaal wie die skeidsregter in 'n wedstryd is, wag tot die eindfluitjie blaas. Kyk watter ou word deur 'n speler van elke span rondgejaag, en verlaat die veld onder polisiebeskerming. As jy die begeerte het om met hom te gesels, kan jy hom gaan soek by 'n vertrek onder die pawiljoen gemerk 'Skeidsregters'. Die deur sal gesluit wees, moontlik deur die twee spelers wat hom rondgejaag het, maar baie waarskynlik deur homself. Hy behoort vroeg die volgende oggend daar uit te sluip, as jou woede so lank hou.

GRENSREGTERS: Staan ook bekend as vlagmanne. Dis die 2 ouens wat met 'n vlag op 'n stok langs die kantlyn op en af hardloop. Sy hooffunksie is om sy vlag dwars uit te hang, om beweerde ongeoorloofde spel aan die skeidsregter uit te wys. 'n Bykomende funksie is om 'n merk aan te dui waar 'n lynstaan moet plaasvind. Dit is gewoonlik 5-10 treë van waar jou span die bal oor die kantlyn geskop het.

Die vlagman is ook veronderstel om van agter die pale aan te dui wanneer 'n skop oor is. Dit doen hy deur vir die ander vlagman te kyk, wat op sy beurt vir hom kyk, met die gevolg dat nie een seker is nie, gevolglik steek een sy vlag op, en die ander swaai dit dwars. Die skeidsregter, wat blind is, is dan aan sy eie lot oorgelaat.

Die grensregter moet ook aandui dat 'n drie gedruk is wanneer 'n speler die hoekvlag omduik voor hy die bal op die grond plaas.

Die grensregters is gewoonlik van die tuisspan, behalwe met internasionale wedstryd wanneer hulle 'neutraal' is. Dan besluit hulle aan wie se kant hulle is deur vooraf 'n muntstuk op te skiet. Een van hulle is die reserwe skeidsregter, en as jy van die besoekende span is, moet jy hoop en bid die skeidsregter raak nie beseer tydens die wedstryd nie, maak nie saak hoe pateties hy is nie. As dit gebeur, neem die reserwe skeidsregter by hom oor en dan het jou span geen kans om te wen nie. Gevolglik moet jou span dit eerder oorweeg om nie verder te speel nie.

NOTA: Die feit dat 'regter' in die titel van beide beamptes voorkom, is erg misleidend. Die volle titel behoort 'polisieman', 'aanklaer' en 'laksman' ook in te sluit. Dit verstom my dat geen RUGBY skeidsregter of grensregter nog ooit voor die Waarheid- en Versoeningkommissie verskyn het nie, wat natuurlik veel sê van die onpartydigheid van die Kommissie.

* * *

Terug na die RUGBYBLAD!