Rugby, Politiek en Godsdiens


Die gemiddelde persoon behoort redelik maklik tussen bg. begrippe te kan onderskei. In lande soos SUID-AFRIKA en NIEU-SEELAND is dit egter nie so 'n eenvoudige saak nie, en kan dit heel dikwels presies dieselfde ding beteken.

POLITIEK: Rugby en Politiek gaan gewoonlik nie baie goed saam nie. Ten spyte hiervan vind politici dit onweerstaanbaar om in te meng. 'n Mens sou glo hulle sal leer uit hul foute, maar dis dalk te veel gevra, veral van politici. Sommige sal so vêr gaan om leuens te versprei, en as hulle daaroor tereg gewys word, word die teregwyser die vark in die verhaal (verskoning aan enige varke wat 'n beter begrip van RUGBY het). Gelukkig is politiek minder belangrik as RUGBY.

Politici word natuurlik dikwels by rugbywedstryde opgemerk. Dit beteken nie dat hulle juis van die spel hou nie, maar dit moet eerder gesien word as 'n poging om steun te verwerf, al is hulle soms so verward dat hulle die opposisie (dis nou op die rugbyveld) ondersteun. Hulle teenwoordigheid mag natuurlik ook 'n poging wees om uit te vind wat 'populêre steun' werklik beteken.

Die ironie is dat die gemiddelde rugbyspeler en -ondersteuner nie die vaagste benul het wie hierdie mense is nie. So sal 'n seuntjie vra "Pappa, wie is daai oom wat nou net die wêreldbeker aan Francois Pienaar oorhandig het?", waarop hy sal antwoord "Weet nie seun, maar ek dink dis Mohammed Ali."

GODSDIENS: Die gemiddelde rugbyondersteuner is streng godsdienstig, amper fundamenteel. Die meeste hang die RUGBY geloof aan, en bou tempels soos Ellispark ter ere daarvan.

Ek moet bieg (nee, ek is nie 'n Katoliek nie) dat ek nie veel kennis van die Koran het nie, maar in die Bybel is daar verskeie verwysings na RUGBY. Oor Springbokrugby sê Psalm 23:4, "Al gaan ek ook deur 'n dal van doodskaduwee...", en oor Walliese rugby skryf Paulus in 1 Korintiërs 13:13, "En nou bly Geloof, Hoop en Liefde..."

Elke rugby liefhebber sal natuurlik vir jou kan sê dat Reuben, Jonah, Daniël en David rugbyspelers is of was. Hulle sal selfs weet dat Moses en Josiah atlete is, en Noah 'n tennisspeler.

* * *

Terug na die RUGBYBLAD!