Kenners
KENNERS is mense wat veronderstel is om die spel te ken,
en ontledings en so daarvan kan maak. My oorlede oupa het
altyd gesê 'n mens moet versigtig wees vir kenners en eksperts.
RUGBYSKRYWERS: Hierdie ouens beweer hulle woon
rugbywedstryde by, en skryf dan verslae daaroor. As jy self die
wedstryd gesien het, moet jy net lees wat hulle skryf as jy dalk
die telling vergeet het. Die wedstrydverslag sal van 'n heel ander
wedstryd wees. Maar moenie hulle weergawe van die telling as korrek
aanvaar as jy Trivial Pursuit speel nie.
'n Belangriker funksie van rugbyskrywers is om spelers se spel
te ontleed, en verslae oor hulle te skryf. Dit doen hulle natuurlik
in die hoop dat die KEURDERS (sien onder) notisie sal neem, en
sodoende húl gunsteling spelers sal kies. So sal jy vind dat die
rugbyskrywer van die Letaba Herald Tzaneen se 3de span senter as 'n
seker keuse vir die Springbokspan sal beskou.
Hulle is ook vreeslik lief om spanne te kies 'n week of twee voor
'n toets. Uit die samestelling van sy span kan 'n mens gewoonlik baie
gou aflei watter provinsie hy ondersteun. As hy byvoorbeeld 'n
Springbokspan met 14 Noord-Transvalers en 1 WP speler kies, moet jy
weet die WP speler is net daar sodat jy nie moet vermoed hy is
bevooroordeeld nie. Verwag 'n span wat uit 14 WP spelers en 1
Noord-Transvaler bestaan (sien KEURDERS).
OUD-SPELERS: Hierdie is 'n interessante groepie KENNERS.
Volgens hulle is RUGBY die enigste sport wat sedert sy ontstaan net
retrograde ontwikkeling ondergaan het. Die spel was baie harder,
beter en vinniger toe hulle gespeel het. Die opposisie sterker en
vuiler. Hulle was fikser, en het hulle nie bemoei met vuilspel nie.
Selfs skeidsregters was hopeloser in hul dae. Vat hierdie ouens
maar met 'n knippie sout.
KOMMENTATORS: Hierdie ouens is veronderstel om jou op TV
te vertel wat gebeur in 'n wedstryd. Iets wat jy in elk geval met
jou eie oë kan sien. Voor die koms van TV was hulle noodsaaklik om die
wedstryd oor die radio vir jou te beskryf, want dit sou sinneloos
gewees het om die heeltyd net na die gesuis van 'n kortgolf
uitsending te geluister het. Minstens het hulle vir jou die telling
gegee, maar as jy hulle die volgende dag wou korrelleer met die rugby
skrywer, het jy gewonder of dit nie beter sou gewees het om maar
eerder na die gesuis te geluister het nie.
Deesdae het kommentators nie veel nut nie, want hulle weet amper
so min van die spel as skeidsregters. Die gevaarlikste, en verveligste
kommentators is oud-spelers, vir redes soos reeds uiteengesit. Dit
verstom my dat geen TV stasie nog nooit daaraan gedink het om 'n
rugbywedstryd te wys met net die agtergrondgeraas van die skare nie.
KEURDERS: Hierdie is die ouens wat die spanne kies.
Hulle doen hul werk gewoonlik deur middel van 'n kommitee, en soos
almal weet, as 'n mens van iets 'n gemors wil maak, laat jy dit aan
'n kommitee oor.
Ek kan met 'n rein gewete sê dat KEURDERS selfs minder van die
spel weet as skeidsregters. Ek betwyfel dit of enige van hulle al
ooit 'n rugbywedstryd bygewoon het. Nou mag jy vra hoe op dees aarde
kan hulle dan spanne kies. Dis eenvoudig, hulle lees in koerante wat
joernaliste skryf!